Wellington Hoërskool gaan uitbrei
2007-02-01
David Joshua
SKOOLHOOF Nazeem Dalvey van Wellington Hoërskool kan die opgewondenheid in sy stem nouliks verberg.
“Die bouplanne vir die oprigting van ons nuwe multimiljoenrand skoolgebou is nou goedgekeur. Indien alles volgens plan verloop, behoort bouwerk teen volgende kwartaal vanjaar te begin en dieselfde tyd volgende jaar klaar te wees.”
Borrelend vertel hy verder dat die planne ook voorsiening maak vir twee binnehof-netbalbane en ’n rugbyveld volgens internasionale standaard.
Met die uiteindelike 26 voltooide lokale word die skoolkapasiteit vergroot om voorsiening te maak vir 1200 leerders en ongeveer 35 opvoeders plus ’n aantal spesialiteitsposte.
“Die bouplanne is die gevolg van harde werk en opoffering. Die sekondêre leergang is reeds in 2006 goedgekeur sodat met die infasering van graad 11 vanjaar begin is met graad 12 vir volgende jaar.
“Die skool se status is nou ’n volwaardige sekondêre skool,” het hy gesê.
Sedert 2005 het die skool met rasse skrede vooruitgegaan en groei die leerdertal steeds. Vanjaar is 570 leerders ingeskryf met 13 opvoeders en drie nie-doserende personeellede wat diens verrig.
“Ons het nie probleme met inskrywings ondervind nie, veral ook nie in graad tien nie, waar ander skole dalk met ’n bottelnek-situasie opgeskeep sit met druipelinge in graad 11.
“Die leerders is soos normaalweg bevorder, sodat ons nie spesiale aanpassingsprogramme vir die nuwe sillabus in plek moet kry om druipelinge in graad 11 te akkommodeer nie. Hiervoor is ek dankbaar,” het Dalvey gesê.
Die beoogde nuwe skoolgebou sien ultra-modern daarna uit. Die administrasieblok is groter as gewoonlik met kantore vir die hoof, twee adjunkte, ’n siekeboeg, kluis, store en groot personeelkamer.
Die skoolsaal sal ’n verhoog met kleedkamers aan weerskante hê.
Ook word voorsiening gemaak vir ’n aparte, volledig-toegeruste mediasentrum en dubbelverdieping biblioteek, twee rekenaarlokale, klawerbord-laboratorium, dramalokaal, danslokaal en vyf klankdigte opname-ateljees, laasgenoemde vir die gefokusde leerareas van drama, dans en musiek.
“Natuurlik is al ons kinders en leerkragte die ene opgewondenheid en ons sien uit na ons nuwe skoolgebou,” het rekenaaradministrateur en opvoeder Shahieda Salie gesê.
Die tydelike klaskamers wat hulle tans huisves, gaan afgebreek en elders opgerig word waar die onderwysdepartement dit benodig.
* Building plans for the expansion of the Wellington High School have been approved.
More
News
|