Bouery gaan voort in Bainskloof
2005-05-12
’n TER plaatse ondersoek is verlede week teen die hange van Bainskloof gedoen waar ’n ontwikkelaar teen die wense van eienaars van aangrensende eiendomme met grondverskuiwing begin het.
Provinsiale politici en burgemeester Herman Bailey het ingegryp om gemoedere te kalmeer nadat bure en beswaarmakers hul stemme dik gemaak het.
Ontwikkelaars het meer as tien jaar gelede toestemming verkry vir die onderverdeling van die grond, met die doel om naweek- en vakansiehuise op te rig.
Daarom meen die ontwikkelaars, is die omgewingswetgewing wat intussen ingestel is, nie op hulle van toepassing nie.
Die bure is bekommerd oor die stormwater verby hul laerliggende eiendom en ontevrede oor die rioolaanleg by hulle huise.
Beswaarmakers meen omdat die huise permanent bewoon gaan word, gaan dit afvoer- en verkeersprobleme meebring. Hulle dring aan op ’n omgewingsimpakstudie.
“Die planne is goedgekeur,” het Bailey ná die samesprekings gesê.
“Die ontwikkelaars hoef dit nie weer aan die Raad voor te lê nie. Verdere samesprekings sal wel gedoen word totdat almal tevrede is.”
Volgens beplanningskonsultant Gys de Klerk is die eiendom gesoneer met ’n bepaling rondom die handhawing van karakter, maar sonder ’n beperking op verblyfvorm.
“Ook met die toe-rioolaanleg is nie afgewyk nie. Die ligginsg is soos dit oorspronklik goedgekeur is.”
In 1993 is die ontwikkeling in drie fases goedgekeur. Die eerste fase, die padstal en restaurant, is binne sewe jaar uitgevoer. Die tweede fase, ’n luukse sekuriteitskompleks met 19 wonings, word nou aangepak. Die dubbelverdieping drie- en vierslaapkamerwonings is in chaletstyl. Die erwe verkoop vanaf R645 000 en die huise vanaf R1,9 miljoen.
Nog 20 kleiner chalets sal teen die bergpad gebou word voordat die laaste fase met vyf erwe, later teen die hoër berghang ontwikkel word.
* Wellington residents are unhappy with a housing development on Bain’s Kloof.
More
News
|