Ouers spoor dogter in lykshuis op
2005-05-12
’n EGPAAR van Wellington se soektog na hul dogter het Saterdag by die lykshuis geëindig.
“Ek wou nie hê sy moes in die motor klim nie,” het die hartseer moeder gesê.
En toe kom Leahandi Jennike (18) nooit terug huis toe nie.
Leahandi, van Mosesstraat 54, Vanwyksvlei, het in die vroeë oggendure Saterdag in ’n sloot langs die Agter-Paarlpad gesterf. Die motor van ’n vriend uit haar straat, distriksbrandweerman Rodney Andrews (24), is ’n wrak.
’n Vriendin van Kylemore het aan haar beserings beswyk. Nog 'n meisie van Kylemore, en brandweerman Lewellen Mabie, is in die hospitaal met ernstige beenbeserings.
Rodney en nog twee jongmense wat ook in die motor was, is vir geringer beserings behandel.
“My suster het Saterdagoggend kwart voor twaalf ’n oproep van Rodney se ma-hulle gehad om te sê daar was ’n ongeluk en Leahandi was in die motor,” het Edgar Jennike vertel.
“Hulle het so geskrik en hospitaal toe gebel. Daar was ’n meisie met haar beskrywing in die lykshuis, en toe het haar mammie en haar daddy dadelik soontoe gegaan.
“Haar daddy het haar liggaam uitgeken.”
Leahandi se ma wou die Vrydagmiddag nie hê sy moes saam Stellenbosch toe gaan nie.
Rodney het die Saterdagoggend 05:30 regoor Nelson’s Creek beheer oor die motor verloor voordat dit in ’n sementkanaal langs die pad gerol het.
"Die polisie was glad nie op die toneel nie en daar is baie vrae oor die gebeure,” het Jennike gesê.
Paarl konst Karin Williams (807-4026) benodig dringend getuies van die ongeluk.
Leahandi, ’n oud-leerling van Weltevrede Hoërskool, was ’n verpleegstudent. Sy was opgewonde, omdat sy Maandag haar uniform sou kry en dan sou sy gaan proef, het die gesin bedroef vertel.
Die tuisdiens is Sondag om 13:00 te Mosesstraat en die gedenkdiens om 14:00 in die VGK Bergrivier.
Benewens haar ouers, Davey en Jocelyn Fischer, laat sy ’n broer Anthony (26) en suster Jadey (14) agter.
Daar word vanmiddag om 17:00 met begeleiding van blaasorkesmusiek kruise teen die pad geplant vir die jong mense wat gesterf het.
* The parents of a Wellington girl discovered her body in a mortuary.
More
News
|