Wamakersvallei se wingerde wen weer
2007-02-01
DAAR word nie op louere gerus op die plaas De Rust buite Wellington nie, daar word gewoel met wen-wingerde vir Wamakersvallei Wynkelder.
Dis dié dat De Rust, op die Hermonpad, deel van Bosman Boerdery, vir die derde agtereenvolgende jaar as wenner van die Paarlstreek se wingerdblokkompetisie vir wyndruiwe aangewys is.
In 2005 het plaaseienaar Jannie Bosman en sy pa-en-seun bestuurderspan, Pieter en Pierre Carstens, die eerste keer ingeskryf en met ’n vyf hektaar blok Cabernet Sauvignon gewen.
Vir beoordelaars is die kwaliteit van die oes en die balans tussen groeikrag en drakrag belangrik.
Daar word gekyk na langtermynpraktyke wat toegepas word, soos optimale spasiëring van rye en stokke, die prieelstelsel en die stokvorm asook korttermynpraktyke wat gevolg word soos wintersnoei, lowerbestuur, onkruidbeheer en oesbeskerming.
In 2006 was Mourvédre die wenblok op De Rust. Beoordelaars het dit beskryf as ’n “werklik uitstaande wingerdblok waarin top wingerdboupraktyke met die grootste presisie toegepas is.”
Dieselfde wingerdblok mag nie weer ingeskryf word nie.
Vanjaar is Pierre Carstens se Shiraz, ’n vyf hektaar blok wat agt jaar gelede aangeplant is, as die wenner aangewys.
Vir beoordelaars was bestuur en oesbeskerming by dié blok deurslaggewend.
Die naaswenner van die VinPro/Winetech wingerdblokkompetisie vir 2007 was ’n 6,3 hektaar blok Chardonnay van Heinie Nel.
Dié blok is in 2002 aangeplant op die plaas Goedehoop van Jannie Bosman in die Bovlei. Dit was die eerste keer dat Nel ingeskryf het.
Die beoordeling het op 17 Januarie plaasgevind en die wenners is dieselfde dag nog aangewys.
Theo Heydenrich was met ’n blok Chenin Blanc op die plaas Hexberg in die derde plek.
Daar was een inskrywing uit Franschhoek, twee uit die Paarl en vier uit Wellington. Beoordelaars word gekies uit verskillende gebiede van die wynbedryf, soos Vititec, kelders en die universiteit.
Die kompetisie se doel is om beter wingerdboupraktyke aan te moedig en die nuutste tegnologie aan produsente bekend te stel sodat topkwaliteit wyndruiwe en wyne winsgewend geproduseer kan word.
’n Boeredag word op 19 Junie vanjaar gehou by die wenblok op De Rust, met Johan Viljoen as die sameroeper vir die Paarlstreek se kompetisie.
More
News
|