`Inspirational Songs' vir seun
2007-02-08
DIE Paarlse sangeres Marissa van Zyl bied op Dinsdagaand 27 Februarie ‘Wind beneath my Wings’ aan in Paarl Gim se ouditorium.
Die tema is inspirasie en alle fondse ingesamel is ten bate van die verlamde skolier Eon Pace.
Op 1 Oktober verlede jaar het dié 14-jarige seun se hele lewe verander toe hy met sy kop in ’n sandbank vasgeduik het en ’n nekwerwel gebreek het. Sedertdien is hy van die nek af ondertoe verlam, hoewel hy al sy arms kan gebruik.
“Almal wat al vir Eon ontmoet het, put inspirasie uit sy positiwiteit en geloof ten spyte van sy omstandighede. Ek wil probeer om juis dit ook deur my musiek weer te gee,” sê Marissa.
Hy kom einde Februarie uiteindelik huis toe, na baie maande in ’n rehabilitasiesentrum in Mitchellsplein. Tuis moet hy egter steeds fisioterapie ontvang.
Sy ma, Cindy, gee ook vir hom ’n duur dieetaanvulling wat help met selbou.
Hulle het nie ’n mediese fonds nie, maar Cindy sal enige iets vir haar enigste seun doen.
Marissa van Zyl het musiek by Maties gestudeer, wat sy verlede jaar met lof geslaag het. Op die oomblik is sy betrokke by musiekonderrig in die Paarl, en sy sing ook nou voltyds.
“Ek voel tuis op die verhoog. Maar my grootste droom is om nie net vir myself nie, maar vir ’n groter doel op te tree.
“Dit is waarom hierdie projek my so opgewonde maak. Ek beleef tans ’n hele gemeenskap wat oopmaak ten bate van iemand in nood. Dis verbysterend.”
Kom luister na Marissa, met gasoptredes deur Jonelia van Tonder en Jaco Stander, op 27 Februarie, 19:00 vir 19:30 in Paarl Gim se ouditorium. Kaartjies teen R30 is beskikbaar by 083-413-0119.
More
News
|