Polisie ondersoek raadslid, amptenare
2007-02-08
DIE Franschhoek Polisie het Dinsdag toegeslaan op die huis en kantoor van die ANC-raadslid Gordon Pheiffer tydens hul ondersoek na beweerde bedrog teen Pheiffer en twee munisipale amptenare op dié dorp.
Daar is beslag gelê op ’n rekenaar by sy kantoor in die gemeenskapsaal.
Die oorspronklike bewering is gemaak deur ’n bouer wat beweer dat Pheiffer van hom die bedrag van R21 000 kontant ontvang het weens ’n “oorbetaling” deur die Munisipaliteit.
Die bouer is deur Pheiffer gekontrakteer om die Groendal Gemeenskapsaal te verf teen ’n koste van R10 000.
’n Bedrag van R31 000 is deur die Munisipaliteit oorbetaal na aanleiding van dokumentasie wat ontvang is.
Pheiffer het glo vir die bouer verduidelik dat die oorbetaling van R21 000 eintlik bedoel is vir rioolkontrakwerk.
Die bouer, wat ontken dat hy ooit ’n tender of enige rekening ingedien het, het die balans van R21 000 aan Pheiffer oorbetaal op 21 Oktober in die teenwoordigheid van sy 26-jarige seun, volgens sy beëdigde verklaring.
Raadslid Pheiffer het ter verweer aangevoer dat die R21 000 die bedrag is wat deur die bouer aan hom verskuldig is in ’n private transaksie vir die koop van ’n motor by hom.
Daar is ook vandeesweek toegeslaan op die huise en kantore van twee amptenare, Alroy Cyster (munisipale bestuurder vir die Franschhoek area), en Jakobus Davids (hoof van gedeelde dienste). Twee rekenaars is gekonfiskeer by hul onderskeie kantore op Franschhoek en Stellenbosch.
Die Stellenbosse Speaker, Andricus van der Westhuizen (DA), het by navraag klem gelê daarop dat daar opgetree sal word teen enige korrupte raadslede of amptenare.
“Ons is vasbeslote om korrupsie uit te roei deur die hele stelsel van tenders, bestellings en subkontraktering te ondersoek.”
* Police have confiscated the computers of a municipal councillor in Franschhoek, as well as those of two municipal officials, while investigating allegations of corruption with subcontracting.
More
News
|