Die slag van die selfone in skole gestry
2007-02-08
Lise Beyers
SOOS blits beweeg die nuwe geslag jeug hul vingers oor die klawers van ’n selfoon.
Binne oomblikke stuur hulle hul boodskap aan en so begin ’n gesprek wat soms tot ’n paar uur kan duur.
Maar dit het nou handuit geruk en in ’n verslawing onder ons jeug ontaard. Dit blyk dat ons kinders nou totaal en al afhanklik van hul fone geraak het.
Dit is nie net ergerlik vir hul ouers wat dikwels die kostes van die oproepe moet dra nie, maar het nou ’n nagmerrie geword vir leerkragte.
Daar word dikwels vertel van kinders wat heeldag by hul skoolbanke sit en ‘MXit’, sonder om ’n woord te hoor wat in die klas bespreek word.
‘MXit’ is die nuutste gier in die selfoon bedryf. Basies kom dit daarop neer dat boodskappe nou gestuur kan word vir ’n fraksie van die koste van ’n gewone SMS.
Gewone selfone kan ’n boodskap stuur wat tussen 100 en 160 karakters bevat, terwyl ’n boodskap deur MXit tot 2000 karakters bevat.
En terwyl kommunikasie nou tussen mense makliker en goedkoper is as ooit tevore, kan dit nadelig raak vir die opvoeding van ons jeug.
Verskeie skole in die Drakenstein-gebied het al noodgedwonge drastiese stappe geneem om die misbruik van selfone by skole te stuit.
Basjan Reinhardt, skoolhoof van Hoërskool Gimnasium, het gesê dat leerlinge by sy skool selfone slegs mag hanteer tydens pouses.
“Leerders mag nie eens hul selfone in die klas gebruik om na die tyd te kyk nie.
“Indien hulle gevang word waar hulle binne skooltyd hul fone hanteer, sal dit vir ’n tydperk afgeneem word.”
By Boishaai moet selfone by die sekretaresse se kantoor ingehandig word voordat skooltyd begin, en leerders kan ná skool die fone weer afhaal.
As hulle ’n dringende oproep moet maak, kan dit vanaf die kantoor gedoen word.
By Hoër Meisieskool Paarl word daar tans gekyk na die moontlikheid om kluise aan te bring waar leerders hul selfone kan toesluit tydens skool-ure.
“Ons meisies mag nie hul selfone in ’n klaskamer hê nie, en indien hulle uitgevang word, word die foon afgeneem en hulle moet ’n boete betaal om dit terug te kry,” sê skoolhoof Reinette Colyn.
“Ons versoek ook ouers se samewerking om kinders te leer om hul fone verantwoordelik te gebruik. Die gier van MXit ruk nou handuit.” Dennis von Willingh sê pront-uit dat by New Orleans Sekondêr het hulle ’n skoolreël aangebring om die gebruik van selfone op die skoolterrien te verbied.
“As studente betrap word dat hulle met hul fone peuter word dit summier afgeneem, en met ’n tweede oortreding word die selfoon vir die hele kwartaal gekonfiskeer.”
Talle leerkragte het bygevoeg dat dit moeilik is om kinders heeltemal te verbied om hul selfone skool toe te bring, want baie kinders maak op die fone staat vir veiligheidsdoeleindes.
Nieuwedrift Primêr se hoof, Chris Bam, het gesê dat talle leerders in sy skool van ver afkom en hulle moet hul selfone byderhand hê as hulle byvoorbeeld huis toe loop of om met hul ouers in verbinding te tree.
Alhoewel die meeste skole streng optree teen selfoonmisbruik, is dit duidelik dat daar steeds leerders is wat kanse waag en nie die reëls eerbiedig nie.
Ouers wat bekommerd is oor hul kinders se gebruik van MXit kan hul selfoonkontrakteur kontak en vra dat die GPRS diens gedeaktiveer word.
Sodoende sal hulle dan nie toegang tot MXit kry nie. Die selfone sal wel steeds gebruik kan word om oproepe te maak en SMS’e te stuur.
Naspers het onlangs ’n 30% aandeel in dié groeiende maatskappy gekoop.
* An increasing number of schools are banning the use of cellphones in class.
More
News
|