Skaapboud koop nie lisensie
2007-02-08
DAAR is geen teken van bedrog met die uitreiking van bestuurderslisensies by die Paarlse verkeerstoetssentrum nie.
Dit is die versekering gegee deur plaaslike owerhede, in reaksie op ’n verklaring deur die LUR vir Vervoer en Openbare Werke, Marius Fransman, oor “wydverspreide bedrog by toetssentra”.
Fransman het ’n Spesiale Ondersoekspan versoek om bedrog by die 35 Wes-Kaapse voertuig- en bestuurdertoetsstasies op te spoor.
Hy meen dat daar tot 1 200 lisensies verlede jaar so onwettig uitgereik is in die provinsie. Sy departement korrespondeer tans met elk van hierdie lisensiehouers voordat daar ’n besluit op stappe vorentoe geneem sal word.
Volgens Fransman sal die Spesiale Ondersoekspan ook die Paarl en Wellington verkeerstoetsstasies besoek.
Hulle is welkom, sê Drakenstein se verkeershoof, Japie Cornelissen.
Die Departement Vervoer, die Spesiale Ondersoekeenheid en die Paarl Verkeersdepartement self, doen in elk geval gereeld en sonder waarskuwing monitering in Drakenstein.
Van tyd tot tyd word foute opgespoor, wat dan onmiddellik deeglik ondersoek word.
Daar word gekyk na die moontlikheid van ’n menslike fout, ’n administratiewe probleem soos ’n fout met die optel van die punte by toetsing, en of daar ’n duidelike trant is wat kan dui op bedrog.
Die afgelope jare is daar al drie beamptes by die Paarl geskors, maar tans is daar geen teken van bedrog nie, sê Cornelissen.
“Indien ons ’n menslike fout (soos ’n optelfout) bespeur, word die beampte deur ons gedissiplineer. Die Spesiale Ondersoekeenheid word ook in kennis gestel, maar hulle soek eintlik na bedrog.
“En daar is tans geen bedrogklag wat ondersoek word nie.”
Dit word beaam deur ’n amptenaar in die Departement Vervoer.
“Ons beoog om vanjaar nog in die Paarl en Wellington ’n normale roetinebesoek af te lê, maar ons konsentreer nou op sentra waar daar werklike probleme is.”
Nie dat beamptes aanbiedinge van ’n “blouetjie” (’n R100-noot), ’n skapie of selfs ’n goue horlosie vryspring nie.
“Nou die dag weer het ’n man gevra of ek omkoopbaar is, en het ek geantwoord nie eens ’n miljoen rand sal my oorreed nie. Hoe gaan my vrou en kinders lewe as ek in die tronk sit?” het ’n beampte vertel.
Dié beampte getuig juis nou in die Wellingtonse landdroshof in ’n saak wat hy gemaak het toe ’n vrou hom met R200 wou omkoop om vir haar “te help” met die verkryging van ’n bestuurderslisensie.
Dit is ook nie die eerste aanklag van poging tot omkopery wat deur ’n Paarlse verkeersbeampte aanhangig gemaak is teen ’n lid van die publiek nie.
“Dit is erg wanneer mense by jou smeek om hulle suksesvol te laat uitpasseer omdat hulle nie ’n werk kan kry sonder ’n bestuurslisensie nie. Ek kry hulle so jammer, maar dit bly bedrog.”
Uit ’n onlangse verslag deur die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het 100% van respondente wat landwyd gevra is of hulle omkoopgeld sal betaal om ’n verkeersboete te vermy, nie net bevestigend geantwoord nie, maar ook erken dat hulle dit wel al gedoen het.
* Monitoring of traffic officers involved with the issuing of drivers’ licenses has revealed no trace of fraud at the Drakenstein traffic centre.
More
News
|