Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kavaliers gepootjie, nie gestuit

Kavaliers gepootjie, nie gestuit
 
2007-02-08


DIE Kavaliers is dalk gepootjie, maar hulle word nie sommer gestuit nie, ook nie deur ’n man wie se roofskip vol borggeld gesink het nie.

So praat die manne van die Boland rugbyspan nadat Fidentia, die firma wat beloof het om hulle vanjaar met R15 miljoen te borg, verlede week onder kuratorskap geplaas is.

“Ons is onseker oor die toekoms, maar ons bly hoopvol en ons pro-beer eerder konsentreer op die voorbereiding vir die seisoen. Ons het die sterkste spelerbasis wat ons in jare gehad het, en ons wil wedstryde wen.”

Hulle vertrou dat die president van Boland Rugby Unie, Jackie Abrahams, en die uitvoerende hoof van Boland Kavaliers, Piet Bergh, die wa deur die drif sal trek.

Met gerugte dat borgskappe die eerste sal wees wat in die slag sal bly, wil Abrahams en Bergh dringend met die kurators in gesprek tree.

“Ons het reeds ’n afspraak vir hierdie week aangevra,” het Abrahams gesê.

“As die kraan toegedraai word, sal die unie die krisis op verantwoordelike wyse hanteer.

“Ons kan nie nou al na ander borge kyk nie. Die eerste stap is om met die kurators te praat.

“Ek was dankbaar vir die borgskap, maar ons het vir vyf jaar nie ’n borgskap gehad nie en al die ratte het geloop. Ons gee nie boedel oor nie.”

Boland Rugby het intussen 'n beroepsvleuel gevorm en kontrakte met 56 spelers en ’n afrigtingspan groter as dié van die Stormers, gevorm. Fidentia was die finansiële vennoot.

Volgens Piet Heymans, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging, is die spelers gekontrakteer aan Boland Rugby Unie.

“Met die verlies van die borgskap kan dit beteken dat hulle weer na spelers se kontrakte sal moet kyk. Ons sal sorg dat daar na die spelers se belange omgesien word.”

Fidentia het ’n 50% aandeel in Boland Rugbymaatskappy se professionele arm. Daar is sedert middel verlede jaar maandeliks R1,3 miljoen oorbetaal aan spelers en personeel.

Die opgradering van die stadion is pas voltooi teen ’n koste van R3 miljoen. Dit sluit in dreinering en besproeiing van die velde en die oprigting van spankamers en addisionele kantore.

Die Kavaliers speel in Maart hul eerste wedstryd op Boland stadion.
Fidentia is ook die hoofborg van die Rangers-sokkerspan wat nou by die sportakademie op die Hawekwa jeugterrein in Bainskloof inwoon.

Fidentia was ’n huurder van die terrein by Anytime Trading, die maatskappy van Paarlse sakeman Johan Pauw, aan wie die Hawekwa Jeugterrein deur die Afrikanerbond verkoop is vir sowat R11 miljoen.

Die datum van oorname was 15 Januarie vanjaar en volgens ingeligte bronne is die proses van oorname nou by die aktekantoor.

Alan Zondagh se rugbyakademie sou volgende jaar van Parow na die sportakademie teen die berg skuif.

Twaalf krieketspelers het ook verlede week daar ingeskryf, met Eric Simons, oud-afrigter van die SA krieketspan, as krieketbestuurder van die sportakademie.

Volgens Simons “gaan sake aan soos gewoonlik”.
In minder as drie jaar het daar by Fidentia R698 miljoen verdwyn, meesal in die sakke van voorsitter Arthur Brown. Kenners meen die syfer wat verdwyn het, kan tot R2 biljoen styg.

’n Direkteur van Fidentia, met 12% aandeelhouding in Fidentia Holdings, is die oud-Paarlse krieketkaptein Louis Koen.

Sy broer, oud-speurder Piet Koen, is die sekuriteitshoof van Fidentia.
Die Paarlse rolstoel atleet, Ernst van Dyk, is ’n kliënte skakel van Fidentia.

“Baie van die mense het nie geweet waarin hulle hul begewe nie,” het ’n regsgeleerde gesê.

Dit was met borgskappe dat Fidentia sy publieke profiel wou bevorder.

Behalwe die sportborgskappe in die Vallei, het Fidentia verlede jaar besit geneem van die maatskappy wat die sukkelende Santé Winelands Hotel en gesondheidsentrum bedryf.

Advokaat Dines Gihwala as kurator en forensiese ouditeur George Papadakis is as kurators aangestel om beheer te neem van Fidentia Holdings en sy filiale Fidentia Asset Management en Bramber. Daar is 34 maatskappye waarin die groep aandele het.

'n Unie wat deur die betowering van Fidentia gesien het, was Boland Krieket.

“Hulle het einde 2005 ook vir ons genader, maar daar was voorwaardes waarvan ons nie gehou het nie,” sê president Peter Cyster.

“Ons het sterk gestaan. Hulle wou 51% aandele bekom het en sou die bestuur oorneem en die besluite neem. Ons wou nie Boland Krieket uitverkoop nie.”

Brown, die man wat Fidentia soos ’n wegholperd gery het, het die naweek spoorloos verdwyn, vermoedelik land-uit.

* The Boland Cavaliers have suffered a setback after their sponsor was put under curatorship.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za