Oumas sal wesies grootmaak
2007-02-08
’n STRYD is aan die broei oor die toesig van drie jong kinders wat wees gelaat is na ’n familie-moord in Groenheuwel.
Die kinders se ouers, asook hul een oupa, is dood en 'n hul ouma erg beseer, tydens ’n bloedige familietwis.
Nou sal slegs ’n hof kan beslis oor wie van hul oumas toesig oor hulle sal verkry.
Woensdagmiddag was dit asof ’n oorlog by Endlerstraat 10 in Groenheuwel losgebars het toe die niksvermoedende buurt tot stilstand geruk is deur ’n hewige sarsie geweerskote.
Die probleme het vroeër die middag begin toe konstabel Carl Scharnick, by sy skoonouers se huis opgedaag het.
Volgens kennisse het Scharnick se vrou, Mesadie, onlangs teruggetrek na haar ouerhuis met hul drie kinders, nadat sy en haar man huweliksprobleme ondervind het.
Hy het na bewering dié noodlottige middag ’n afspraak met sy vrou gehad om hul probleme te bespreek.
’n Stryery het vermoedelik ontstaan tussen Scharnick en sy skoonpa, Tom Meyer, omdat Tom vroeër die dag Mesadie se meubels uit hul woonstel in Mountain View verwyder het.
’n Buurman, Alfred Fortuin, het geskok vertel dat hy buite op sy stoep gesit het toe hy die rusie gehoor het.
“Carl is daar weg en toe hy terugkeer, het hy ’n geweer in sy hand gehad. Hy het die voordeur stukkend geskop en ek het weer ’n stryery gehoor. Daarna het die skote skielik begin klap.
“Na ’n paar minute het Carl weer na buite gekom en soos ’n kind op die stoep gaan sit. Hy het ’n geweer teen sy kop gedruk en ’n skoot afgetrek.”
Nog ’n buurvrou het gesê tydens die voorval was die straat vol kinders wat rustig gespeel het.
“Hulle moes aanskou hoe Carl homself skiet. Ons is almal erg geruk hierdeur, want ons is hier soos een groot familie.”
Die skok het kort hierna eers werklik die buurt getref toe daar op die lyke van Tom en Mesadie in die huis afgekom is, asook Tom se vrou, Clera, wat erg gewond was. Sy is ’n DA-raadslid vir Drakenstein.
Tom is na bewering tien keer geskiet en Mesadie twee keer in die kop. Clera is in die kop, nek en buik getref en is na die Paarl MediClinic geneem waar ’n nood-operasie op haar uitgevoer is.
Mesadie is vermoedelik geskiet terwyl hul jongste kind op haar skoot gesit het.
Hul ander twee kinders was tydens die voorval by Scharnick se ouers, Pauline en Colin, wat ’n hanetree van die moordhuis woon.
Scharnick en Mesadie het mekaar reeds op skool leer ken en is in 2000 getroud, waarna Carl by die polisie aangesluit het.
Geskokte kollegas by die Paarl-Oos polisiestasie het gesê dat hy ’n stil, pligsgetroue polisieman was wat ’n onberispelike diensrekord gehad het.
“Ons sou nooit kon dink dat hy so iets sou doen nie. Daar moes iets ergs skeefgeloop het daardie middag,” het talle gesê.
Beide Carl en Mesadie was hul ouers se enigste kinders.
Die drie kinders wat wees gelaat is, Ashwin (9), Chelsea (5) en Kaylin (18 maande) wat tans in die tydelike sorg van Scharnick se ouers geplaas is, terwyl hulle steeds sielkundige berading ontvang om hul verlies te verwerk.
“My seun wou net ’n goeie pa vir sy kinders wees en man vir sy vrou. Hy het nooit moeilikheid by enigiemand gesoek nie,” sê Scharnick.
“Ek is nou vasberade om die res van my lewe te spandeer om vir my enigste kleinkinders te sorg.
“Niemand sal ooit weet wat die ontploffing veroorsaak het nie. Die publiek moet nou ophou om te bespiegel en die dooies laat rus.”
Tans sterk Clera by die huis aan en is steeds te swak om oor die voorval te praat.
Mesadie word Saterdag om 09:00 saam met haar pa begrawe vanuit die woning te Endlerstraat 10 en 10:00 by die Nuwe Hervormde Apostoliese Kerk.
Scharnick se begrafnis is Saterdag om 08:00 vanuit Beethovenlaan 10 en daarna by die Calvynse Kerk in Abbattoirstraat.
* Three orphans left after a family slaying will now be cared for by their grandmothers.
More
News
|