Oud-werknemer skik oor oortydbedrog
2007-02-15
’n SKIKKING is blykbaar bereik in die saak tussen Drakenstein Munisipaliteit en Ian Kenned, die voormalige adjunk-tesourier. Hy is tans hoof finansiële amptenaar van Stellenbosch Munisipaliteit.
Dié saak sleep reeds sedert voorverlede jaar en spruit uit bewerings van sowat R80 000 wat Kenned aan homself sou uitbetaal het vir oortydwerk. Hy was nie geregtig op oortyd in die pos waarin hy was nie.
Die vorige burgemeester, Herman Bailey, het Drakenstein se interne ouditeure opdrag gegee om die bewerings te ondersoek.
Verlede jaar het ’n munisipale woordvoerder, Anthony Sauls, gesê die Raad het ’n besluit geneem dat Kenned die bedrag moet terugbetaal. Hierna het die twee partye se regslui onderhandel tot en met verlede week se vergadering van die burgemeesterskomitee.
Geen besonderhede rondom die skikking is bekend gemaak nie en woordvoerders van die twee partye sê hulle het ooreen gekom om nie kommentaar te lewer nie.
More
News
|