Geen polisiehulp tydens aanval
2007-02-15
Lise Beyers
’n SAKEMAN van Wellington moes meer as ’n uur wag op hulp van die polisie, toe hy deur ’n man aangeval is wat vir hom met klippe bestook het.
Pietie le Roux, eienaar van Wynland Wendyhuise in Hoofstraat, het verlede Woensdagoggend ’n los werker gehuur om hom vir ’n paar uur te help.
Toe dit by die betaal-tyd kom, het die man op nog geld aangedring en volgens Le Roux ’n vyandige houding ingeneem.
“Hy het omgedraai om te loop, maar het toe groot klippe opgetel en vir my daarmee begin gooi.
“Ek het myself in my kantoor toegesluit en die polisie gebel.
“Ek het verduidelik dat ek aangeval word en dat ek vir my lewe vrees.
Hulle het gesê dat hulle dadelik hulp stuur.
“Die man het ’n klip deur die kantoor se venster gegooi en hy het aanmekaar geskree ‘kill, kill’.
“Met al die moorde wat nou daagliks plaasvind, het ek gedink dat ek ’n statistiek gaan word.
“Die polisie het nie opgedaag nie, en ek moes keer op keer bel.
“Hulle het vier keer die telefoon beantwoord en geklink asof hulle nie juis belang stel in my storie nie. Twee ander kere wat ek gebel het, het hulle nie eers die telefoon beantwoord nie.
“Ek het uiteindelik vir die aanvaller al die kontant gegee wat ek gehad het, ongeveer R400, en hy het weggehardloop.
“As die polisie dadelik op my hulpkreet gereageer het, sou hulle die aanvaller op heterdaad betrap het. En as die aanvaller gewapen was, sou hulle op my lyk afgekom het,” vertel ’n ontstelde Le Roux.
“Eers ’n uur nadat ek die eerste keer vir die polisie van die voorval in kennis gestel het, het hulle ’n vangwa gestuur met twee konstabels wat nie eintlik hulpvaardig was nie.
"Dit is kommerwekkend om te weet dat die polisie nie beskikbaar is om die publiek in nood te help nie.
“Ek het vir jare lank mense van die straat af probeer help om vir hulle los werkies te gee, maar na dié voorval sal ek nie weer iemand help nie.”
Die stasiebevelvoerder van Wellington, snr/supt Nelson Govender, het gesê dat hy die voorval sal ondersoek en as daar bevind word dat enige lid nalatig was, sal daar teen hom of hulle opgetree word.
* A Wellington man, fearing for his life from an attacker, waited for the police for more than an hour despite repeated phone calls.
More
News
|