Kinders maak amok
2007-02-15
Lise Beyers
MINDERJARIGE boewe voer ’n terreur-veldtog in Suider-Paarl. In die proses is talle waardevolle wedvlug-duiwe gedood, verskeie inbrake gepleeg en ’n jong motoris by ’n motorhawe aangeval.
Kort voor Kersfees, is daar by dr De Wet Louw se wedvlugduif-broeihokke in Courtrai ingebreek en duiwe afgemaai.
“Ons het op ses dooie duiwe afgekom wat wreedaardig doodgemaak is en my top duif is toe ook weg,” vertel ’n ontstelde Louw.
“Eers het ons self vermoed dat dié grusame daad gepleeg is deur ’n wedvlug-teenstander. Maar ek het van gedagte verander weens die grusame manier waarop die duiwe doodgemaak is - geen duifliefhebber sou dit gedoen het nie.
“Die duiwe se vlerke en nekke is gebreek.”
Binne die volgende ses weke is daar nog twee keer by sy hokke ingebreek en nog nege duiwe het verdwyn. Tot dusver het Louw reeds duisende rande se skade gely met dié verliese.
Maar verlede Woensdag het die stukke van die legkaart in plek geval toe ’n egpaar aangrensend aan Louw se eiendom in Dauphinestraat, Courtrai, wakkergeskrik het met drie jeugdiges in hul huis.
Hulle het vermoedelik deur ’n venster toegang verkry.
Die inwoner het gesê dat sy omstreeks 04:30 wakker geskrik het toe sy kaste binne die huis hoor toeslaan het.
“Ek het gaan ondersoek instel en drie jong seuns in my kombuis teëgekom.
“Hulle het deur my kaste gegaan met flitsligte en ek het op hulle begin gil waarna hulle gevlug het.
“Ek het my man wakkergemaak en ons het hul spoor gevolg tot by ons heining waar hulle in die wingerd van die aangrensende plaas verdwyn het.”
Daar is vasgestel dat die knape die kaste van die hoofslaapkamer deursoek het en ’n flits en twee verkykers daaruit gesteel het.
Verder is daar verskeie bottels drank gesteel, ’n handsak en breekgoed is weg.
“Ons het geslaap en hulle glad nie gehoor terwyl hulle in ons kamer was nie.”
Louw het ook in die vroeë oggendure van Woensdag besef dat daar weer eens by sy duiwehok verwoesting gesaai is.
Dié keer is die hok gebreek en ses duiwe is weg, onder meer sy top broei-paar wat op kuikens gesit het.
“By nadere ondersoek het ek ’n barometer en verkyker op die dak van die hokke gevind. Later het ons ’n tikmasjien tussen die wingerdstokke naby my huis gevind.
“Nadat ek by my bure gehoor het van hul inbraak, het dinge begin sin maak. Die goedere is uit die bure se huis gesteel.”
’n Informant van ’n buurplaas het laat weet dat kinders van werkers op ’n plaas langs die Jan Phillips-bergpad besope gespog het oor drank wat hulle by ’n huis in Courtrai gesteel het.
Nog ’n informant het vir Louw laat weet dat hy seuns met ’n boks gewaar het waarin daar duiwe was. Hulle wou hulle glo in Paarl-Oos gaan verkoop het.
Die polisie is hieroor in kennis gestel en uiteindelik is vyf seuns tussen die ouderdomme van agt en sewentien jaar in hegtenis geneem.
“Alhoewel ek sommige van my duiwe teruggekry het, is van hulle erg beseer toe die identiteitsringe van hul pote afgedwing is.
My hele broeiprogram is ook tot niet en ek sal van vooraf moet begin.”
Die probleem is egter steeds nie opgelos nie, weens die feit dat die seuns minderjarig is.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hulle voel asof hul hande afgekap is in sulke situasies. Minderjariges wat misdade pleeg, word eenvoudig net in die sorg van hul ouers of voogde teruggeplaas deur die hof.
“Dan is hulle binne ’n oogwink weer op straat waar hulle net verder misdaad pleeg.
“Daar is ook nie voldoende plekke van veiligheid vir sulke kinders waar ’n poging aangewend kan word om hulle te hervorm nie.
“Hulle word deur die wette van die land beskerm en ontwikkel uiteindelik tot volwaardige misdadigers.”
Die publiek word versoek om steeds klagtes te lê teen kinders wat betrokke is by misdaad, want indien hulle op 18 jaar of ouer in hegtenis geneem word, is die vorige misdrywe op rekord.
* Young criminals have broken into houses and killed and maimed prize racing pigeons in Paarl South.
More
News
|