Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Eindfluit vir Boland?

Eindfluit vir Boland?
 
2007-02-15

Malané Bosman

BOLAND Rugbyunie kan gelikwideer word indien sy spelers die unie vir wanbetaling sou dagvaar.

“Dit is beslis ’n moontlikheid, indien die Unie hul kontrakte die einde van die maand weens geldnood nie kan nakom nie,” is die opinie van regsgeleerdes.

“Dit sal ’n laaste opsie wees,” het Boland Rugbyunie se uitvoerende hoof, Piet Bergh, hierdie week by navraag gesê.

Behalwe om sy spelers te akkommodeer, moet Bergh vandag saam met die direksie van Boland Rugby besluit oor die toekoms van afrigters.

Bespielinge oor ’n keuse tussen of Rudy Joubert of Hawies Fourie, die twee afrigters wat saam te duur is vir die borglose Boland, is deur Bergh as onwaar bestempel.

“Daar kan selfs nuwe name deur die direksie oorweeg word,” het Bergh gesê.

Nadat Joubert verlede jaar Oktober deur Fidentia as direkteur van afrigting by Boland aangestel is, is Fourie, wat sedert 2003 die Kavaliers se hoofafrigter was, verskuif na agterlynafrigter.

Op Wellington is dit nie net Boland rugbyspelers, amptenare en werknemers wat snags nie kan slaap nie.

Ouers, vroue en kinders weet ook nie waar die volgende salaristjek vandaan gaan kom en hoe die huishuur, motorfinansiering en selfs skool- en kosgeld betaal sal word nie.

“Boland is in sy kanon in,” het ’n speler gesug. “Ons moet dit aanvaar.”

Die 56 spelers is almal professioneel, en moes hulle betrekkings bedank om middel verlede jaar met Fidentia kontrakte te sluit.

Fidentia, die hoofborg, is onder kuratorskap geplaas weens die beweerde misbruik van beleggers se geld. Die syfer kan by R2 miljard draai.

Plaaslike spelers is met aanloklike pakkette op Wellington gehou.

Top spelers is met nog beter kontrakte uit ander provinsies aangekoop. Hulle het hul huise verkoop, hul eggenotes is nou in
Wellington en hul kinders daar in die skool.

Die spelers verdien van kort by R10 000 tot R40 000 per maand, met
afrigters en beamptes se loonpakkette tot R50 000.

Onderhandelinge was onderweg met oorsese spelers soos Jonah Lomu en Carlos Spencer. Die Kavaliers was oorgehaal om hul staal te wys.

Hulle het elke dag van sewe-uur soggens by Boland-stadion bymekaargekom, waar hulle vyf uur lank geoefen het, van etes voorsien is, en dan in die gimnasium fiksheidsoefeninge gedoen het.

Toe die bom twee weke gelede gebars het, het die sterk, swart perd gestruikel.

Die span sou ná die Vodacombeker-reeks teen die Pumas meeding om ’n plek in die Curriebeker-kompetisie. En die spelers was vol vertroue dat hulle bo sou eindig.

Kenners meen daar is nou soveel talent in Wellington dat dit ’n ramp sou wees as afrigter Rudy Joubert se werk van die afgelope maande inmekaar tuimel.

Nie net is hul toekoms by Boland onseker nie, maar baie van die spelers het soos hul Unie, die waarskuwingstekens nie herken nie, en geld belê by die maatskappy wat hulle so goedgunstiglik geborg het. Dit kan jare duur voordat hulle dié geld terugkry, indien ooit.

Wat die einde van hierdie maand met hul salaristjeks gaan gebeur, bly ’n nagmerrie.

“Ons slaap nie snags nie,” het ’n speler gebieg. “Ons kan nou net bid op uitkoms.”

’n Ander speler sê met sy hand op sy hart: “Ons sal aanhou oefen, ons doen dit vir rugby.”

Maar ook hy erken dat die Unie in ’n krisis gedompel is.

Hierdie week word daar van vroegoggend tot laataand individueel met elke speler onderhandel om toe te sien dat elkeen geakkommodeer word, sê Bergh.

Daar is egter - totdat ’n nuwe borg verskyn - slegs R400 000 per maand beskikbaar vir die 56 spelers.

Van die spelers het hierdie week al begin voelers uitsteek na oorsese klubs. Ander is met die hoed in die hand na hul vorige werkgewers.

“Ons maak solank die deur oop vir ingeval ons sou semi-professioneel word; dat ons net saans oefen en bedags ’n ander, betalende, werk kan hê. Maar vir die toekoms van die Kavaliers voorspel dit niks goed nie.”

Bergh het ná ’n noodvergadering met Fidentia se kurator, Dines Gihwala, gesê: “Daar sal nie weer geld van Fidentia kom nie.

“Ons sal nie wegskram van ons verpligtinge teenoor ons spelers nie, maar ons sal ’n nuwe borg moet soek, want die Unie het nie die nodige geld om die spelers te betaal nie.”

Fidentia se borgskap het vanjaar R15 miljoen beloop. Die waarde van die spelers se kontrakte vir dié tyd beloop byna R14 miljoen, wat nie wedstrydgeld, aansporingsbonusse asook mediese fonds en beseringsversekering, wat sowat R1 miljoen beloop, insluit nie.

Boland Rugby se jaarlikse inkomste van uitsaairegte is R4,8 miljoen, met addisionele inkomste van nog sowat R3 miljoen.

Al waaroor spelers en beamptes dankbaar is, is dat die veld en geboue reeds teen R3 miljoen met Fidentia se geld opgeknap is.

“En hulle kan tog seker nie die stadion sooi vir sooi en baksteen vir baksteen terugvat nie,” het hulle gespot.

Bergh is egter reeds deur die kurator van Fidentia ingelig dat likwidasie van Boland Rugbyunie wel ’n opsie is wat deur hom uitgeoefen kan word, maar beslis as ’n laaste opsie.

Intussen is die dosyne advertensieborde om Boland-stadion afgehaal. Waar die geldvoorskieter se naam verlede week nog gewapper het soos ’n rooigety-brander met wit Fidentia kruine, lyk dit nou so leeg soos die spelers se sakke.

* Boland Rugby Union may have been fatally hit by the collapse of sponsor Fidentia.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za