Poemas leer Roses skrum
2007-02-15
DIE eerste span van Roses United Rugbyklub het Saterdag die toerspan van Sante Fe (Argentinië) in ’n historiese wedstryd met 24-19 geklop.
Dit was egter die besoekers wat vir Roses gewys het hoe daar nou eintlik geskrum moet word en met die losbal vorentoe beweeg moet word.
Die kere dat Santa Fe aan die hardloop gegaan het, moes die Rose hul keer ken.
Die tuisspan se verdediging was egter op sy kop en hulle kon die aanvalle genoegsaam keer om uiteindelik ’n sege te verseker.
Dit was ’n aantreklike wedstryd waarin geen genade betoon was nie. Die Rose het vier drieë gedruk teenoor die drie van die Argentyne.
Volgens Roses se afrigter Abie Davids is daar ’n verbetering in sy span se skrumtegniek.
“Ons skrum is alreeds stewiger as verlede jaar. Ons wil vanjaar drieë druk met skrum-balle en nie net derdefase-besit nie.
“Santa Fe het ons definitief ’n paar wenke gegee en geleer. Ons kyk nou positief na die rugbyseisoen wat op hande is,” het Davids gesê.
Roses se tweede en derde span het onderskeidelik 32-17 en 39-19 verloor.
Roses speel Saterdag ’n wegwedstryd teen Langebaan.
Die res van die klub se voorseisoense oefenprogram lyk as volg: (22 Februarie) Oefenkamp Drakenstein, (3 Maart) Schotsekloof Walmers - Tuis, (10 Maart) Silvertree - tuis, (17 Maart) Tygerberg - tuis, (24 Maart) Oefenkamp, (31 Maart) Belhar.
More
News
|