Hy sit net voet innie hoek
2007-02-15
Leon Steenkamp
DIE 10-jarige Adriaan van Romburgh het onlangs heelwat gesoute stampkar-bestuurders in sy uitlaatgasse laat stik.
Dié jong man het met bravade wat dikwels net vir die jeug beskore is, ’n tweede plek in die Mini-standaardklas losgery tydens die Worcester Skoukampioenskap.
Wat dié prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat dit maar net die sewende keer was dat Adriaan agter die stuur inskuif.
Hy is lid van die Worcester Motorklub en ’n leerder van Laerskool WA Joubert en tans die jongste jaer in dié motorsport.
Hy ry vir die span van LG Towing, AutoZone en Stasie Motors. Die sport is egter nie vir sissies nie.
Adriaan moes verlede week eers deur ’n dokter ondersoek word nadat hy die vorige naweek in ’n botsing op die Killarney-renbaan betrokke was.
“Toe ek by die motor kom, toe’s hy “lights out” - hy en die bestuurder van die Mini wat voor hom ingedraai het,” vertel Adriaan se pa Henk, terwyl hy besig is om ’n nuwe neuspaneel aan sy seun se opgeboude Mini Cooper vas te bout.
Adriaan het Saterdag weer op Worcester gejaag en weer tweede gekom, dié keer teen elf ander renjaers.
“Baie van die ouens teen wie hy jaag is hardebaard-manne wat al jare ry.
“Hy skroom nie om die ander motors buite om verby te steek nie, hy sit net voet in die hoek en laat waai,” vertel Henk verder.
“Ek self het vir 22 jaar gery en kon slegs een keer die Skoukampioenskap vat. Hier kom dié jong laaitie en eindig sommer tweede met sy eerste probeerslag,” spog Henk met sy seun se ryvernuf.
Dié jong seun se aanskoulike bestuurstyl het reeds die aandag van die groot manne in die sport getrek en Adriaan is genooi om die komende naweek in Springbok te gaan jaag.
Vrees agter die stuur blyk iets te wees wat Adriaan nie ken nie.
“Ek het in Oktober vir hom dié Mini gebou,” vertel Henk terwyl hy na die afneus-voertuig beduie.
“Ek sê vir jou, die inklim agter die stuur, reverse en vasry teen die hekpaal was soos een ding,” sê Henk terwyl hy na ’n hek op sy skrootwerf in Suider-Paarl wys.
“Ek het hom glad nie geleer om te ry nie. ’n Oom het net een keer saam met hom gery en so op die been getik en gesê: ‘As jy nie die clutch intrap nie, vrek die kar.’ En van daar af het hy gery.
Volgens Henk het hy vir albei sy seuns, Adriaan en ouboet Reynier (22), Mini’s gebou.
“Toe Adriaan egter vir Reynier klop in van die eerste wedrenne, het hy sommer dadelik opgehou. Ek gaan nie dat ’n laaitie vir my wegry nie, het hy gesê,” vertel Henk met ’n glimlag, terwyl Reynier in die agtergrond luidkeels protesteer teen dié storie.
Maar wat is dit wat die sport so aanloklik maak?
“Dis daardie lekker gevoel wat ek kry as ek oor die wenstreep ry,” vertel Adriaan skamerig.
Hy is egter nie die laaste Van Romburgh wat met ’n Mini gaan jaag nie.
Kleinsus Léane (4) staan ook nog in die ry. Haar Mini staan klaar reg vir die opbouslag en haar pa wil sien hoe sy, oor twee jaar, ook soos haar ouer broer die groot manne die stryd aansê op die ovaalbaan.
More
News
|