Kinders aangeval by atletiek
2007-02-15
Lise Beyers
DIE lelike gesig van skolegeweld het vandeesweek sy kop uitgesteek in die Drakenstein-gebied, tydens ’n atletiekbyeenkoms by Daljosafat-stadion.
Die voorval het Maandag plaasgevind tydens die seshoekige atletiekbyeenkoms tussen Paarl Gimnasium, Vredenburg Hoërskool, Jan van Riebeeck, Hoërskool Swartland, Worcester Gimnasium en Brackenfell.
Vier seuns het na bewering op die pawiljoen in ’n argument betrokke geraak waarna ’n mes uitgepluk is.
’n Ooggetuie het vertel dat die drank op die pawiljoen sigbaar gevloei het voordat die seuns vir mekaar begin uittart het.
’n Graad elf leerder van Gimnasium, Gershwin April, en twee seuns van Vredenburg Hoërskool het steekwonde in hul arms opgedoen.
Die gewondes is na Medicross in Patriotplein geneem vir behandeling.
’n Knipmes is op die toneel gevind en deur een van die toeskouers aan ’n onderwyseres oorhandig.
Geen amptelike klag in verband met die voorval is deur die betrokke ouers of skole by die polisie gelê nie.
Die skoolhoof van Gimnasium, Basjan Reinhardt, het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê dat dit ’n baie onaangename gebeurtenis was.
“Dit is wel baie vinnig gehanteer om die vrede te herstel en die voorval sal nou intern ondersoek word. Die res van die byeenkoms het sonder voorval verloop.”
Verlede jaar is ’n leerder van New Orleans Sekondêr ernstig gewond toe hy deur ’n mede-leerder by die skool met ’n mes gesteek is.
Tsepo Sefafe (18) se hart is rakelings gemis deur die lem van die mes toe hy na bewering aangeval is op die skoolterrein deur ’n vyftienjarige seun.
Die aangeleentheid het ’n paar maande later ’n lelike draai gemaak toe Tsepo en sy tweelingbroer, Tsepiso, die aanvaller voorgelê het by ’n sjebeen in Groenheuwel. Tydens die skermutseling is ’n tienermeisie raakgeskiet.
* Three learners were stabbed during an athletics meeting at Dal Josaphat stadium on Monday night.
More
News
|