Gesoek: beste vroueboer
2005-05-12
DIE jaarlikse Vroueboer van die Jaar kompetisie is een van die maniere waarop vroue in die landbou erken word. Inskrywings sluit op 17 Junie.
Die kompetisie dien as instrument waardeur vroue se onontbeerlike bydrae tot die oorlog teen armoede erken kan word.
Meer as 100 vroue en vrouegroepe vanoor die hele Wes-Kaap het oor die afgelope ses jaar aan hierdie kompetisie deelgeneem.
Die kompetisie vind eers op provinsiale vlak plaas, waarna provinsiale wenners op nasionale vlak meeding.
Belangstellendes kan in vier kategorieë inskryf of genomineer word: top uitvoerder, top produsent vir nasionale markte, top produsent vir informele markte en top produsent vir huishoudelike gebruik.
Om vir die eerste kategorie in aanmerking te kom, moet ten minste 30% van die totale produksie vir uitvoermarkte geoormerk wees.
Die kriterium vir die tweede kategorie bepaal dat meer as 30% van produkte vir nasionale markte beskikbaar gestel moet word.
Kategorie drie is vir diegene wat aan informele markte verskaf en sodoende vir haar familie sorg.
Die laaste kategorie is vir kandidate wat grootliks vir eie gebruik produseer, soos met groentetuine.
Dit dien as aansporing vir ander wat reeds in die landboubedryf betrokke is of dit as loopbaanopsie oorweeg. Verdere navrae kan aan Gizelle van Wyk gerig word by 808-5022 of gizellevw@ elsenburg.com.
More
News
|