Wyn smaak suur
2007-02-22
’n BEKENDE Wellingtonse plaas- en bottelstooreienaar het ’n skulderkenningsboete betaal nadat water by sy wyn gevoeg is.
Voormalige burgemeester Tienie Malan, eienaar van Hawekwa Bottelering en die plaas Versailles aan die Hoofstraat, hou egter vol dat die afwatering “per ongeluk” was.
Hy het wel skuld beken en daarna die boete van R1 500 betaal.
Daar is verlede jaar tydens ’n landbouprodukte-inspeksie ontdek dat water gevoeg is by vyf-liter plastiekkanne Golden Harvest in ’n drankwinkel.
Die wyn het ’n alkoholinhoud van 7,63% gehad, waar wit wyn normaalweg ’n alkoholinhoud van minstens 11% het.
Volgens Malan het die “fout” ingesluip deur verkeerde etikette wat op die produk geplak is. Die etikette was bedoel vir gegeurde druifdrank, waarby water en geurmiddels gevoeg mag word.
Malan is ook bekend vir sy gestoei teen voorgenome regulasies om papsakke sonder ’n boks-omhulsel te belet.
Die wynbedryf wou dié regulasies instel weens drankmisbruik en swak naam wat dit aan die bedryf gee.
Malan pak al 45 jaar lank wyn, ook in sy bottelstoor. Hy het al aangedui dat hy maandeliks tot 150 000 liter wyn in papsakke verpak en verkoop.
More
News
|