Boland Kavaliers steeds in losgemaal
2007-02-22
TE midde van die wolk van onsekerheid wat vandeesweek nog oor Boland-stadion gehang het, moes die Kavaliers voorberei vir hul eerste Vodacombeker-wedstryd wat môreaand in Durban gespeel word.
Die finansiële debakel rondom die Boland Rugby Unie (BRU) se hoofborg, Fidentia, het die Boland Kavaliers se sake in absolute wanorde geplaas, met die kontrakte van 23 spelers in die gedrang.
’n Rits vergaderings tussen die BRU, Boland-spelers, die kurators van Fidentia, SA Rugby en die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (Sarpa) kon nog nie duidelikheid gee oor waar Boland en sy 56 gekontrakteerde spelers staan nie.
Die Boland Unie het egter vandeesweek onder kwaai kritiek van Sarpa deurgeloop nadat hy 23 van sy spelers die trekpas gegee het.
Onder dié is die voormalige Springbokke, Hanyani Shimange en Quinton Davids.
Sarpa het die afleggingsproses as onwettig bestempel en bepaal dat al 56 spelers nog steeds deur die Boland gekontrakteer is.
Dit is nie net die spelerstal wat moes verminder nie. Die Kavaliers se afrigtingspan het ook gekrimp, met Rudy Joubert (direkteur van afrigting), Louis Koen (skopafrigter), Willem Snyman, George Watton (albei fiksheidsafrigters) en Christoff Lotter (skool-skakelbeampte) wat hul posisies kwyt is.
Hawies Fourie is heraangestel as die span se hoofafrigter, bygestaan deur hulpafrigter Deon Davids.
Die Kavaliers speel môreaand teen die Natal Wildebeeste in Durban en of die gekose 22 spelers hul finansiële probleme vir 80 minute kan vergeet, sal net die tyd leer.
Die span sal môreaand deur agsteman, Henley du Plessis, op die veld gelei word.
Die span is Monray Liebenberg, Alvin Hugo, Piet van Zyl, Dewe Swartbooi, Alshaun Bock, Jacques Schutte, Tewis de Bruyn, Roland Reid, Henley du Plessis, Callie Wannenburg, Piet Myburgh, David de Villiers, Tommy Dixon, Conrad Burke, Janro van Niekerk. Plaasvervangers: Pieter Wium, Jané du Toit, Coenie Basson, Zolani Mofu, Neil Papier, Jacques Badenhorst en Justin Peach.
More
News
|