Wellington kniel voor Paarl
2007-02-22
ONDANKS ’n goeie telling kon die verdedigende Boland-kampioen, Wellington Krieketklub, Saterdag nie daarin slaag om ’n oorwinning oor sy bure, Paarl Krieketklub, te behaal nie.
Die kolwers van McCarthy Toyota Wellington het op die Parys-veld eerste voor die penne stelling ingeneem.
Die vurige openingskolwer, Dawie Malan, het die toeskouers op ’n aanskoulike beurt getrakteer toe hy 'n meedoënlose 142 lopies van slegs 133 balle gemoker het.
Hy het in die proses die bal 11 keer oor die grenstou gejaag en agt sesse geslaan.
Christy Schreuder wat 40 lopies van 51 balle gemoker het en ’n grenshou en ses ingesluit het, was die enigste ander kolwer wat onder die Paarl boulers ingeklim het.
Paarl se voorste boulers was die draaibalboulers, Ockert Erasmus (4/63) en Rohan Goetham (2/46).
In ’n spannende aanloop tot die einde van die wedstryd behaal Novel Paarl 263/4 met 10 balle oor.
’n Tweede paaltjievennootskap van 124 lopies (vanaf 176 balle) tussen Alfredo Adams en Carlo Crotz het die basis gelê vir die tuisspan se sege.
Die tweede paaltjie van Crotz (54 4x8) kantel met die telling op 135.
Hierna het Adams en Lynal Jansen ’n verdere 58 lopies tot die totaal gevoeg voordat ’n kommunikasiefout tussen die twee daartoe gelei het dat Adams uitgehardloop word.
Adams het die Wellingtonners se boulwerk met minagting behandel en sewe grenshoue en ses sesse gemoker in sy beurt van 101.
Jansen (65 nun 4x8) het ’n ware kapteinsbeurt gespeel om sy span na ’n ses-paaltjie oorwinning te lei.
Op die Pen Basson-veld was Wellington II egter met agt paaltjies baas oor sy Paarl-eweknie.
Die besoekers het 222/10 aangeteken nadat Graham Adams (88 4x10, 6x2), Faghrie Jacobs (48 4x8) en Vincenzo Penazza (21 4x2) lopies kry.
M Pfister (3/39) en C Williams (3/42) het die tuisspan se boulaanval gelei.
Wellington II (228/2) behaal die wenlopies in die 43ste beurt, met D Puchart (99 4x15, 6x2) en Williams (63nun 4x7, 6x2) wat met die wilgerlat laat waai.
More
News
|