Atlete slyp vir SA’s
2007-02-22
DIE plaaslike atletiekseisoen is vinnig besig om ’n hoogtepunt te bereik met die SA Senior Kampioenskap wat op 16 en 17 Maart in Durban plaasvind asook die SA Junior Kampioenskap wat op 20 en 21 April in Pretoria gehou word.
Saterdag kry beide junior en senior atlete die unieke geleentheid om tydens dieselfde byeenkoms op Coetzenburg Stadion deel te neem in voorbereiding vir dié twee byeenkomste.
Die eerste drie atlete wat in die senior kompetisie deelneem sal medaljes verower, met die wenner wat as die 2007 senior Boland-kampioen gekroon sal word.
Atlete wat nog vir Saterdag se byeenkoms wil inskryf, kan met hul naaste skool of klub in verbinding tree. Inskrywings sal nog aanvaar word tot môre 12:00.
Na afloop van die gekombineerde byeenkoms sal twee spanne gekies word.
Die Boland Sentraal atletiekspan vir hoërskole sal op 2 en 3 Maart op Coetzenburg Stadion aan die Boland Junior Kampioenskap deelneem.
Altesaam ses hoërskool-streekspanne van die Boland sal tydens dié byeenkoms teen mekaar kragte meet.
Die Boland junior kampioenskappe sal as voorprogram dien vir die vyfde been van die nasionale atletiek-reeks die ‘Yellow Pages Ultimate Athletics’.
’n Senior Boland atletiekspan sal ook na afloop van Saterdag se byeenkoms bekendgemaak word.
Dié span neem vanaf 16 tot 17 Maart in Durban deel.
More
News
|