Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Klein mannetjie het groot planne

Klein mannetjie het groot planne
 
2007-02-22

David Joshua

‘n VASBYTER – dit is Morné Vermeulen (15). Hierdie klein kordaatmannetjie, wat nou in graad 8 by Weltevrede Sekondêr op Wellington is, is sonder bene gebore, met klein, swak ontwikkelde voetjies.

Morné stap op sy hande en hoort eintlik in ‘n rolstoel.

Wanneer jy hom gade slaan terwyl hy beweeg, kan jy nie anders as om die mannetjie te bewonder vir die flinke manier waarop hy oor die weg kom nie.

Die stoeptrappe by die huis is vir hom geen obstruksie nie en hy klim hulle flink uit.

“Ek wil eendag my eie vervoersaak besit,” sê die selfversekerde Morné waar hy hurksit op die stoep by die huis van sy tante op Oude Wellington wynplaas.

“Hoewel ek nie self sal kan bestuur nie, gaan ek aan die roer van sake staan. My hande makeer niks nie, want ek kom letterlik daarmee oor die weg,” vertel hy.

Morné is die jongste van vyf kinders van Anna en Willem. Die gesin kom oorspronklik van Calvinia se wêreld, maar het in Ceres gewoon.

Vir grade een en twee is Morné na die Astra Skool vir Gestremdes in Manenberg en vanaf graad drie tot sewe, het hy skoolgegaan by
Tanqua Primêr in die Ceres-Karoo omgewing. Pa het werk gekry in Klapmuts en die gesin het na die Paarlvallei verhuis.

Morné was vir ‘n gedeelte van 2005 en 2006 by die huis en omdat sy ouers nie ‘n vaste blyplek gehad het nie, het hulle nie aansoek om skooltoelating gedoen nie. Maar Morné wou skoolgaan, kom wat wil.

Sy paaie het gekruis met raadslid Van der Berg Pienaar wat hom een middag in Wellington se strate sien loop het in sy soektog om toelating tot ‘n sekondêre skool. Hy het hom in aanraking gebring met Russel du Plessis van Smart People, wat namens hom aansoek gedoen het, ook by twee ander skole in Wellington. Morné is by Weltevrede Sekondêr in Vanwyksvlei aanvaar.

“Die skool het voorheen twee sulke leerlinge gehad,” sê skoolhoof Len Moses. “Die kinders hier is glad nie oorsensitief oor die gestremdheid van Morné nie, en ek het nog nie klagtes van hom ontvang dat hulle op hom neersien of teen hom diskrimineer nie.

“Dit lyk of hy heel gemaklik hier aangepas het en die kinders dra hom letterlik op die hande. Hy is hulle klein held met sy deursettingsvermoë.”

Moses het ook gesê dat die skool alles in sy vermoë gaan doen om te sorg dat Morné sy matriek klaarmaak.

Morné is lief vir diere en die honde by die huis dartel al om hom rond en wil met hom speel.

“Dit lyk al asof hulle verstaan dat ek nie bene het nie en as ek roep dan kom hulle gedwee nader,” sê hy.

“Ek wens ek het ‘n elektriese rolstoel gehad,” mymer hy hardop. “Dis beter as die meganiese een en dit sal my nie so gou moeg maak nie.”

Hy toon ook groot belangstelling in rekenaars: “Ek moet vertroud raak met ‘n rekenaar want dit gaan my baie help om eendag my besigheid te bestuur,” sê hy.

Verder stel hy ook nie eintlik belang in ‘n prostese vir sy onderlyf nie: “Die spesialis by Worcester Hospitaal het gesê dat hulle een vir my kan maak.

“Dis beter en gemakliker vir my so soos wat ek nou is. Met Mamma en Pappa en my familie se liefde is alles oraait, en o ja, ek het die gevoel dat die Here iets met my in gedagte het.”

Mense wat wil help kan Russell du Plessis van Smart People skakel by 084-816-3800.

* A young boy, born without legs but with small, onderdeveloped feet, nevertheless has big plans for his future.



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za