Peoples stoom voort
2005-05-12
IN ’n oop en aantreklike wedstryd op die Faurestraat Stadion het Young Peoples Rygbyklub Saterdag sy segetog voortgesit deur Strand met 25-18 te klop.
Die Tiere was rustyd 8-15 agter.
Die skare het weer opwindende en positiewe hardlooprugby van albei spanne gesien, en Peoples het eerste bloed geruik toe die slot, Jollie Hendricks, in die sesde minuut agter die doellyn gaan kuier het.
Die besoekers het egter met mening teruggeveg en is met ’n strafdoel in die 14de minuut beloon om die telling 5-3 te maak. ’n Strafdoel deur die Tiere se losskakel, Delwaine Cornelissen, het Peoples se voorsprong na 8-3 gerek, maar Strand het in die laaste 20 minute die tuisspan van sy voete gespeel en twee prag-drieë gedruk.
Peoples het ietwat verslae gaan water drink met die telling 8-15 in die besoekers se guns.
Die eerste 20 minute na rustyd het baie gelykop verloop en beide spanne het met puik verdediging beïndruk.
In die 22ste minuut neem Peoples die bal deur sewe fases en heelagter, Thysie Pietersen, duik in die hoekie oor. Cornelissen doel skitterend en Peoples haal asem op 15-15.
Strand wys egter dat hy nie verniet verlede jaar in die superliga gespeel het nie en loods die een aanval na die ander.
Die Paarliete verdedig egter puik en Strand kan net ’n strafdoel vir sy moeite wys om 18-15 voor te loop.
Die besoekers los egter in die 29ste minuut ’n klein gaping vir die sterk vleuel, Jaques Lategan, en hy druk Peoples se derde drie om die Paarliete 22-18 voor te plaas.
Die laaste tien minute was ’n wipplank-stryd en Peoples het met slim spel in die opponente se gebied geboer.
Cornelissen het in die 35ste minuut nog ’n strafdoel behaal, en Peoples wen so welverdiend 25-18.
Die Tiere se grootste uitblinkers was die lostrio van Francois Julies, Kallie Jacobs en Oswald Sitzer, die vleuel Christopher Adams en kaptein, Barry Williams.
Peoples II en III wen onderskeidelik 24-6 en 15-8.
More
News
|