Matthysen is SA se beste junior
2005-05-12
DIE Paarliet Réniell Matthysen (foto) is ongetwyfeld die beste junior fietsryer in die land nadat hy vier goue medaljes by die onlangse SA Baanfietsrykampioenskappe ingepalm het.
Matthysen, ’n lid van die Paarl Fietsryklub, het die baan van die Bellville Velodrome aan die brand gery in die 1km tydtoets, 1500m, uitvalwedren en, as deel van die WP juniorspan, in die Olimpiese naelry.
Daarby het die leerder van Labori ook ’n bronsmedalje in die 25km punte-wedren ingeoes.
Ander lede van die Paarl Fietsryklub wat ook medaljes verower het, was Martin Malan en Marius Bester.
Malan, ook ’n junior-ryer en matriekleerder van Bridge House, het ’n goue medalje losgery in die 25km Puntewedren.
Bester van HJS het op sy beurt goud verower in die 500m tydtoets vir o.16-ryers en in die proses ’n nuwe WP-rekord losgery.
Hy het ook goud ingepalm in die span-agtervolging, silwer in die 1500m en 20km punte-wedren, en brons in die naelry.
Lede van die Yorkshire Fietsryklub in die Paarl wat ook hul staal tydens die kampioenskappe getoon het, was Avery Arendse (Labori), Magdalene Nicholson (Noorder-Paarl) en Willem Davids.
Nicholson het vier medaljes verower - goud in die 500m tydtoets, en silwer in die enkelagtervolging, 1500m en puntewedren vir junior vroue. Die o.14 ryer, Arendse, het brons verower in die 10km puntewedren, terwyl Willem Davids (veterane 50 tot 54 jaar) ook brons gewen het in die naelry.
* Die publieke vakansiedag en die gevolglike verkorte week was die rede dat die SA Baanfietsry se volledige uitslae nie in verlede week se Paarl Post gepubliseer is nie.
More
News
|