Nuwe Allpay-punt
2007-03-01
MENSE wat gewoonlik hul staatstoelae en -pensioen by die AllPay-dienspunt by die Navolgers van Christus Kerk in die Nederburg-gebied ontvang, sal volgende maand by ’n ander plek betaal word.
”Betalings geskeduleer vir 5, 6, 7 en 8 Maart sal by Ebenezer Sendingkerk, hoek van Klein Drakensteinweg en Van der Stelstraat, Nederburg, Paarl, gedoen word,” sê Andries de Jongh.
AllPay se verantwoordelikheid is om te verseker dat die betaling van staatstoelae en -pensioene in die Wes-Kaap so glad moontlik verloop.
“Die plekverandering is onvermydelik en teweeggebring deur handelinge buite AllPay se beheer.
“Ons verstaan dat aangesien ons die betaalpunt op dié stadium moet verander, sommige kliënte verontrief kan word en ons is opreg spyt daaroor,” sê Andries.
“Ons is egter by AllPay verbind daartoe om aan kliënte die doeltreffendste, gerieflikste diens moontlik te bied en het reeds stappe gedoen om die situasie reg te stel.”
AllPay-kliënte kan Joseph Arulandu by 082-466-8057 of Janine Leibrandt by 082-783-4042 vir meer inligting skakel of indien hulle enige ander vrae oor die plekverandering het,” sê Andries.
More
News
|