Paulus te sterk vir Kylemore
2005-05-12
DIE eerste rugbyspan van Paulus Joubert Sekondêr het verlede week met 21-13 stof in die oë van Kylemore geskop.
Kylemore het die wedstryd op ’n hoë noot begin toe Ricardo Smartry (senter) binne die eerste minute druk en Ruan Jacobs (losskakel) verdoel.
Paulus hergroepeer egter en begin meer doelgerig speel, wat dan vir Bradwell Swartz (losskakel) geleentheid gee om ’n strafskop oor te skop.
Hoewel albei spanne entoesiasties was om die bal wyd te speel, het swak hantering talle van die goeie bewegings laat skipbreuk ly.
Die spanne gaan drink water nadat Swartz weer met ’n strafskop suksesvol was.
In die tweede helfte speel Paulus met nuwe vuur en druk Swartz sy span se eerste drie van die wedstryd.
Twee lang strafskoppogings pale toe deur Jacobs maak egter sake weer gelyk 13-13.
’n Verdere strafskop deur Swartz en onverdoelde drie deur Alfredo van Rooyen (senter) in die laaste tien minute verseker die oorwinning vir Paulus.
Paulus se Marchall Ludick (vleuel) was die speler van die wedstryd. Ander uitslae: o.19B PJ wen 15-0, o.16A gelykop 7-7, o.15A PJ wen 19-10, o.14A PJ wen 10-5.
* In ’n riller van ’n wedstryd in die Paarl het Hoër Jongenskool vir Paul Roos Gimnasium 16-11 geklop.
Die Boishaaiers se ietwat beter vertoning in die lynstane en beter benutting van hul kanse het hulle die voordeel in dié baie gelykopstryd gegee.
Boishaai se drie is deur Zandré Jordaan gedruk. Conrad Hoffman was suksesvol met die doelskop en twee strafskoppe en Enrico Isaacs het 'n skepskop oorgesit.
* In die Agter-Paarl het ’n ewe harde wedstryd tussen die spanne van Hoër Landbouskool Boland en Bishops afgespeel.
Die Landbouers het egter met ’n grootse terugvegpoging gekom om hul agterstand van 13-19 in die laaste kwartier in ’n naelbytsege van 20-19 te omskep.
Landbou se drieë is deur Johan Coetzee en Rudi Zandberg gedruk. Stiaan van Zyl was in die kol met twee doelskoppe, ’n strafskop en ’n skepskop.
* Die manne van Durbanville het geen antwoord gehad op die aanslag van Paarl Gimnasium nie en moes 78-0 in die stof byt.
Die Gimmies het 12 drieë in dié blitzkrieg gedruk.
Die Gimmies wat in die doelgebied gaan kuier het, was Van Zyl Vorster (3), Inus Carstens (3), André Smith (2), Emile Swart (2), Vermeulen Rossouw en Matthys Nieuwoudt. Nico van Rensburg het nege doelskoppe oorgeskop.
More
News
|