Wellington Rugbyklub nog onoorwonne
2005-05-12
DIE Wellington Rubgbyklub se eerste span is steeds onoorwonne nadat hul Saterdag vir Worcester Villagers 32-13 geklop.
Hoewel die Worcesterriete goeie teenstand gegee het, was dit die besoekers se voorspelers wat oorheers het en sake in Wellington se guns laat swaai het.
Wellington se drieë is deur Louw Schabort, Jean Taylor, Lionel Hugo, Pieter Wium en Frankie Horn gedruk. Theuns Stoffberg het twee doelskoppe en 'n strafskop oorgeklits.
* Roses United het op hul beurt vir Rawsonville 32-8 laat les opsê. Ook hier het die voorspelers die fondasie vir 'n sege gelê.
Driedrukkers was Ignasius Koerabie, Paul Manie, Martin Nel en Quewin Hendricks. Warren Apollis het twee doelskoppe en twee strafskoppe oorgesit.
* Die naweek se plaaslike rugby was gekenmerk deur heelwat hard, spannende wedstryde.
Een so ’n wedstryd het op Worcester afgespeel waar Hillcrest United in hul Boland Superliga B2-wedstryd vir Collegians 7-3 geklop het.
Die Wellingtonners se kaptein, Adanaan Arnold, het die enigste drie in die wedstryd gedruk, terwyl die losskakel Conroy Booysen sukses behaal het met die doelskop.
* Die spanne van Young Gardens kon Saterdag nog ’n keep op hul kerfstok maak toe hulle aldrie spanne van Paarl Rangers geklop het.
Die Rooi Roses was baas met 17-7.
Davey de Kock het met sy skopvoet die spel goed dikteer en sy span so gehelp om voortdurend in Rangers se gebied te boer.
Charl Hendricks was die groot uitblinker in die Gardens-agterlyn en het met sy aanvallende lopies en klipharde verdediging die Rangers-spelers laat bontstaan.
Neville Fortuin, De Kock en Jeremy Koukkom het drieë gedruk, terwyl Koukom ook met ’n doelskop geslaag het.
Rangers se drie is deur Ashley Williams gedruk terwyl J Makati met ’n doelskop geslaag het.
* In ’n opwindende Boland Superliga C2-wedstryd het Young Stars Rugbyklub vir Black Vultures van Mbekweni laat les opsê.
Stars het eerste bloed geruik toe Wayne Davids gaan druk en Giano Hendricks verdoel.
’n Drie deur Vultures het die rustydtelling op 7-5 te staan gebring. Vroeg in die tweede helfte het Adam Samuels Stars se voorsprong vergroot toe hy oor die doellyn geval het.
Die Mbekweni-span het egter nie gaan lê nie en ná nog ’n drie blaas hulle weer warm in Stars se nekke.
Stars se verdediging hou egter en hulle wen die wedstryd 12-10. * Vineyards het Saterdag die speelveld gelyk gemaak toe hulle die voorlopers van Divisie 4, Silverleaf, 26-13 (14-0) geklop het. Silverleaf was nog onoorwonne totdat hulle Saterdag vir Vineyards op Daljosafat die stryd aangesê het.
Vineyards en Silverleaf lê nou gesamentlik bo-aan die punteleer, elk met 24 punte.
Die vier drieë deur Adlee Moerat (flank), Makkie Heyns (haker), Zahier Chippendale (flank) en Adam Moerat (agsteman) het dan ook verseker dat Vineyards ’n bonuspunt kon optel.
Die Vineyards agttal het oorheers met Moerat, en die slotte, Thamir Moerat en Zahied Dalvie, aan die spits.
Daarby het die skakelpaar van Anwar Dalvie (skrumskakel) en Adlee Moerat (losskakel) die spel ook goed dikteer.
Die tweede span het 32-0 verloor en die derde span het 18-7 gewen.
* Die eerstespan van Violets Rugbyklub het Saterdag weer vir ’n groot verrassing gesorg toe hulle vir Thistles 18-10 geklop het.
Violets het goeie balle in die lynstane gewen.
Die agterlyn het heelwat besit gekry, maar ’n gebrek aan afronding het Violets daarvan weerhou om punte aan te teken.
Malvern Pietersen se skopskoen was weer goud werd en sy vyf strafskoppe asook ’n goeie skepskop deur Timmy Nolan het die wedstryd in Violets se guns beklink.
Pikkie Isaacs is as speler van die wedstryd aangewys.
More
News
|