Vas oor handskrif
2007-03-01
‘n BESKULDIGDE in ‘n diefstalsaak het verlede Donderdag sy moses teëgekom as gevolg van ‘n hof-beampte se lelike handskrif.
Linda Gibisela van Mbekweni het in die Paarl Landdroshof verskyn in verband met ‘n saak van huisbraak. Tydens sy inhegtenisname is daar beslag gelê op sy voertuig.
Die saak is egter teen hom teruggetrek weens ‘n gebrek aan getuienis.
Maar Gibisela se vryheid was van korte duur, want toe hy na die polisiestasie is om sy voertuig terug te eis, moes hy eers ‘n afskrif van die klagstaat aan die polisiebeampte oorhandig om te bewys dat die saak teen hom wel teruggetrek is en dat sy voertuig aan hom terugbesorg kan word.
Die offisier kon nie die saaknommer op die klagstaat lees nie weens die swak handskrif en hy het besluit om op die rekenaar daarvoor te soek deur die man se naam in te pons.
En siedaar - Gibisela wat so ewe onskuldig voor hom staan, word al sedert 2002 gesoek weens ‘n klag van huisbraak in Kuilsrivier.
Hy is summier weer in hegtenis geneem en aangestuur na die Kuilsrivier polisiestasie om verantwoording te doen vir sy daad - als te danke aan iemand se lelike handskrif.
* The illegible handwriting in a police docket led to a suspect being apprehended.
More
News
|