Polisie besteel
2007-03-01
’n INBRAAK by die Paarl-Oos polisiestasie het veroorsaak dat vertroulike inligting van die polisiestasie nou hul rondes op die straat doen.
Die inbraak het tydens die nag plaasgevind by een van die opslaan-kantore toe iemand vermoedelik oor die aangrensende heining geklim het en ’n venster van die kantoor oopgedwing het.
Die spesifieke kantoor word gebruik vir die aansoeke vir drank- en vuurwapenlisensies en staan weg van die hoofkantoor af.
Die kantoor word slegs tydens kantoorure beman en word snags toegesluit.
Nadat die venster oopgedwing is, het die vermeende rower die kantoor deursoek en ’n rekenaar gesteel waarop daar vertroulike inligting is.
Talle ander elektroniese items is in die kantoor agtergelaat, en dit het die vermoede laat ontstaan dat net een persoon verantwoordelik was vir die inbraak.
Die voorval is weereens ’n bewys van tekortkominge by die Paarl-Oos polisiestasie weens ’n onvoldoende perseel, sê De Villiers.
Dié polisiestasie word gehuisves in ’n gebou wat byna 50 jaar oud is en dit bars al ’n geruime tyd lank uit sy nate. Daar moes dus deur die jare opslaan-kantore bygevoeg word om die groeiende getalle te huisves.
Toe die gebou destyds geopen is, was daar slegs sewe lede aan diens, maar intussen het dit gegroei na 110 lede wat vanuit die piepklein gebou in Klein Drakensteinweg die vrede in dié gebied moet probeer bewaar.
’n Nuwe polisiestasie word tans gebou op ’n perseel langs Allandale gevangenis en na beraming behoort dit teen April 2008 voltooi te wees.
* The Paarl East police station has been robbed.
More
News
|