Einde van wêreld verwag
2007-03-01
EK moet seker dankbaar wees dat die vreeslike sirenes voorverlede Sondagoggend - onophoudelik, kliphard, deur murg en been - toe nie die einde van die Paarl (en die wêreld) aangekondig het nie.
So saam met die eerste gesang in die Suider-Paarl NG Kerk, het die eerste verkeersmotor met ‘n string fietsryers agterna, om halftien die oggend lawaaierig in Suider-Paarl se Hoofstraat afgejaag.
Dertig minute lank het dit aangehou - tien fietse gelei deur ‘n motor met flitsende ligte en volle sirene-mondering.
Stilte. Net nog met die laaste trek van die klaagliedere van die buurt se honde met sensitiewe ore.
Nog fietse. Weer gelei deur ‘n verkeersmotor bestuur deur ‘n (indien nie voor die tyd nie, beslis nou) gehoorgestremde beampte.
Toegegee, dis seker ‘n groot opgewondenheid, so ‘n prettrap. Maar is dit nodig om die stilte van ‘n Sondagoggend - en die gewydheid van ‘n erediens skaars ‘n straatblok van die roete - so te verskreeu?
‘n Vooraf-waarskuwing sou darem die ordentlike manier van doen gewees het.
Dan kon laapslapers vooraf oorpluisies ingeprop het, lidmate kon eerder die aanddiens bygewoon het en die buurt se honde kon almal vir die dag op ‘n uitstappie see toe geneem word.
Stilstuipe
Luc Bouckaert antwoord namens Paarl Rotariërs: Altesame 1500 prettrappers is veilig deur vaardige verkeersbeamptes oor die volledige roete begelei (dit is hul diskresie om sirenes te gebruik).
Die prettrap is gehou op ‘n Sondagoggend aangesien daar baie minder verkeer is, wat verder bydra tot veiligheid van die deelnemers, onder andere kinders, asook die publiek.
Al die gelde verdien, is direk aangewend vir die Paarl Rotariërs se Eeufeesprojek, die “omgee-oord” vir mishandelde vroue en kinders wat in Bredastraat, Paarl, gebou is.
Die Paarl Rotariërs en hul borge wil graag die deelnemers, organiseerders en veral die Drakenstein Verkeersdepartement en Noodhulpdienste bedank wat tot die sukses van hierdie Sondag-prettrap bygedra het!
More
News
|