Boland Meesters bring medaljes huis toe
2005-05-12
DIE Boland Meesters Atletiekspan wat uit sewe lede bestaan, het onlangs aan die SA Meesters Atletiekkampioenskappe in Germiston deelgeneem.
Dit was die eerste keer dat die Boland Meesters Atletiekspan amptelik in hul Boland-kleure deelgeneem het aan dié‚ kampioenskappe, sedert die Boland Meesters Atletiekvereniging verlede jaar gestig is.
Die sewe atlete in die Boland-span het goeie vertonings gelewer tydens vanjaar se byeenkoms en in die proses 14 medaljes ingeoes.
Die span het beslis voortgebou op die skitterprestasies van die junior en senior spanne wat in April in hul onderskeie kampioenskappe ‘n rekordgetal medaljes gewen het.
Dit was veral Ronel Beukes van Paarl Atletiekklub wat beïndruk het met wêreldklas prestasies in die kategorie vir vroue 45-49 jaar.
Sy het goud gewen in die 100m in ‘n tyd van 13,31s asook in die 200m in ‘n tyd van 27,29s.
Met dié‚ tye sou Beukes op 45-jarige ouderdom, vanjaar by verskeie interskole byeenkomste die juniors kon klop.
Om alles te kroon was sy ook deel van die 4x100m manspan gewees wat die goue medalje verower het.
Die span bestaan uit Beukes Noël Daniels, Nollie Nolte en Theuns Mostert.
Beukes het dan ook gekwalifiseer om later vanjaar aan die Wêreld Meesters Kampioenskappe in Spanje deel te neem.
Izak Nel van Paarl Atletiekklub het ook twee goue medaljes losgeslaan in die 20km en 5km stap-items vir 40- tot 44-jarige atlete.
Ook hy het vir die Wêreldkampioenskappe gekwalifiseer.
Sy prestasie tydens vanjaar se SA Meesters was vir Nel ‘n persoonlike triomf nadat hy tydens vanjaar se SA Senior Kampioenskappe in Durban, in die 20km Stap, met minder as ‘n kilometer oor in die wedloop, gediskwalifiseer was.
Hy was op daardie stadium ook op pad om ‘n medalje te wen. Ander plaaslike atlete wat ook medaljes gewen het was Anthony Solomons van Korrektiewe Dienste (silwer in diskusgooi vir 30-34 jaar) en Theuns Mostert van Wellington AK (goud in verspring en driesprong vir 30-34 jaar).
More
News
|