Junior atlete nou vir Boland-spanne
2007-03-01
ATLETIEK-GEESDRIFTIGES kan weer uitsien na voortreflike atletiek wanneer die Boland Junior en Hoërskole-kampioenskap die naweek op Coetzenburg Stadion op Stellenbosch plaasvind.
Die Boland Junior Kampioenskap sal as voorprogram dien vir die Yellow Pages Ultimate Athletics byeenkoms wat môreaand om 18:00 op Coetzenburg begin.
Die Boland Junior-kampioenskap sal ook dien as ‘n kontinuïteitsprogram vir vanjaar se SA Veelkampkampioenskap wat terselfdertyd op Coetzenburg aangebied word.
Plaaslike jeug en junior atlete het dus die unieke geleentheid om tydens dié byeenkoms meer as 60 van die wêreld se beste atlete te ontmoet tydens die Yellow Pages Ultimate Athletics Byeenkoms.
Na afloop van die Boland Junior-kampioenskap sal verskeie spanne gekies word.
Die Boland Hoërskole Atletiekspan sal vanaf 29 tot 31 Maart aan die SA Hoërskole Kampioenskap in Port Elizabeth deelneem, terwyl die Boland Jeug en Junior Span weer op 13 en 14 April aan die SA Jeug- en Juniorkampioenskap in Pretoria sal deelneem.
Na afloop van dié byeenkoms sal ‘n span vir die IAAF Wêreld Jeugkampioenskap aangewys word.
‘n Wes-Kaapse Jeugspele-span sal ook gekies word wat in September aan die SA Jeugspele in Bloemfontein sal deelneem.
More
News
|