Bergrivier weer aan wenkant
2007-03-01
DIE manne van Bergrivier Krieketklub was vir die tweede agtereenvolgende naweek aan die wenkant toe hulle Saterdag vir Malmesbury op Weltevredepark met drie paaltjies geklop het.
Die besoekers het eerste gekolf en ‘n verdienstelike 221/9 in hul toegelate 60 boulbeurte aangeteken. Craig Meyer (78 4x8) was die besoekers se voorste lopiemaker.
Ryan Mouton het sy 4/17 in verlede week se wedstryd teen Paarl-Oos met ‘n goeie 4/38 opgevolg. Hy is goed bygestaan deur Lester Hendricks (2/50) en Lee-Irvine Alexander (2/58).
Die tuisspan was in sy kolfbeurt vroeg teen die toue op 16/3.
Charlton Manuel (76 4x11) en Marquin Julies (53 4x7, 6x1) het met ‘n positiewe vennootskap van 100 tot die tuisspan se redding gekom.
Morné Albanie (30 4x2) het ook sy span na 'n sege gehelp. Die tweede span het ook ‘n oorwinning van drie paaltjies oor Oostelikes behaal.
Bergrivier I speel Saterdag weg teen Worcester United, terwyl die tweede span op Pniel teen Coronations II te staan sal kom.
More
News
|