Boland sokkerspanne is op dreef
2005-05-12
DIE sokkerspan van Double V United moes Sondag met ’n 0-0 gelykop-uitslag tevrede wees in hul Boland Superliga wedstryd teen View of Hope van Worcester.
Die wedstryd was egter ’n vertoonvenster van Robert Ndu se talente.
Dié middelveldspeler wat voorheen eersteliga sokker in Johannesburg gespeel het, bly nou in die Paarl en het met sy vernuf en goeie balvaardighede groot stabiliteit in die middelveld en aan die verdedigingslinie van Double V United gebring.
Ndu moes egter die veld met harsingskudding verlaat ná ongeoorloofde verdediging deur ’n teenstander.
Hoewel die wedstryd gekenmerk is deur goeie spel het albei spanne heelwat kanse verbrou om doele aan te teken.
Gregory Fredericks, kaptein van Double V United van Paarl-Oos, het in die 90ste minuut ’n gulde kans verspeel toe hy net die doelwagter moes omseil vir ’n doel.
Sy skop het egter rakelings oor die dwarsbalk verbygeskuur.
Die wedstryd het by tye byna in ’n bakleiery ontaard aangesien die skeidsregter nie streng genoeg opgetree het teen spelers wat hul aan vuilspel skuldig gemaak het nie.
Volgens Amira Hendricks, sekretaresse van Double V United, is sy besig om talentvolle spelers in die Drakenstein te identifiseer wat dié streek in die Castle-liga kan verteenwoordig.
Double V United se Drakenstein-liga span het vir Silver Hills United 3-2 gewen.
Raynaldo Hoffman het ’n driekuns behaal.
More
News
|