Paarl-Oos kry lekker
2007-03-01
DIE manne van Paarl-Oos Krieketklub het Saterdag op sy tuisveld ‘n relatiewe lae telling goed verdedig en sodoende vir Stellenbosch/Distrikte met 32 lopies geklop.
Die Paarliete het 157 aangeteken, danksy Morné de Vries (50 4x5), Bjorn Hollenbach (28 4x2) en Jenovan Adams (25 4x3) wat die lopies jaag.
Die besoekers se beste boulers was Morné Arendse (5/27) en P Kirsten (2/25).
Die Stellenbosch-span word tot 125 beperk, met die laaste paaltjie wat in die 52ste beurt kantel.
Anwell Newmann (45 4x4, 6x1) het op ‘n stadium baie gevaarlik gelyk. Hy het egter die veld verlaat nadat hy op die arm geboul is.
Hy het egter aan die einde van die beurt weer stelling voor die penne ingeneem, maar sy ritme is verbreek en hy is kort voor lank uitgehaal sonder om veel meer lopies by die totaal te voeg.
Sy besering het die wedstryd in die guns van die tuisspan gedraai. Brendon Layman (20 4x2) het ook moedig probeer met die kolf.
Garth Fortuin (2/32) en Wayne Minnies (4/27) was Paarl-Oos se groot kanonne met die bal.
Paarl-Oos het ‘n sug van verligting geslaak ná die oorwinning aangesien 12 van sy spelers Saterdagoggend op die nippertjie van die drie spanne onttrek het.
Die klubbestuur kon egter genoeg plaasvervangers in die hande kry om aldrie spanne volledig in die veld te stoot.
Op Idasvallei het Paarl-Oos II (166/4) vir Stellenbosch/Distrikte II (164) met ses paaltjies geklop.
Die Paarliete se uitblinkers was Burton Gouws (2/24), Bruce Miller (2/29 en 72nun 4x11, 6x2), Dane Schoor (31) en Jermaine Didloff (37nun 4x6).
Vir die tuisspan het D Baardman (28 4x3), J Swartz (24 4x2) en L Smit (3/33) moedig probeer.
Saterdag speel Paarl-Oos I en Paarl-Oos II (albei tuis) teen onderskeidelik Victoriane en Paarl II. Die derde span speel weg teen Atlantis II.
More
News
|