Plaaswag sukses teen misdaad
2007-03-08
DIE Wellington Landelike Plaaswag wat in Desember op die been gebring is, het gesorg dat misdaad tydens die feesseisoen in die geheel gedaal het.
Die projek is verlede jaar geloods deur Wellington polisiebeampte insp Pierre Hugo en 17 vrywilligers van verskeie plase in die gebied.
Die 17 vrywilligers wat op plase woonagtig is, het intensiewe opleiding ondergaan om onder andere konflikte te hanteer, in radiokommunikasie en hantering van misdaadtonele.
Toe hulle gereed was om in hul poste te val is hulle toegerus met baadjies, flitse, tweerigtingradio’s en knuppels.
Die doel van die plaaswag is om die polisie en reserviste by te staan in die landelike gebiede, en om veral misdaad te teiken wat veroorsaak word deur drank- en dwelmmisbruik.
Voetpatrollies is gereeld gedoen, veral tydens die feestyd en naweke wanneer misdaad toeneem.
Tydens die voetpatrollies is daar gekonsentreer op bekamping van die onwettige verkoop van drank en dwelms, en daar is gesorg dat kinders snags na hul ouerwonings geneem word.
Padblokkades is ook dikwels op die plaaspaaie gehou, waartydens onpadwaardige en ongelisensieerde voertuie van die pad gehaal is.
Gedurende dié tydperk is talle arrestasies gemaak vir die besit van dwelms en onwettige drankhandel.
Volgens insp Hugo het hulle geweldige positiewe terugvoering ontvang van die landbougemeenskap, sowel as die Wellington Landbouvereniging.
“Daar was ’n merkbare afname in veral geweldsmisdade, wat ’n goeie aanduiding was dat die projek suksesvol uitgevoer is.
“Ons wil die projek nog vergroot en ons moedig veral werklose plaaswerkers aan om aan te sluit vir oplei-ding vir die plaaswag.
“Hulle sal daarna ’n proeftydperk van ses maande werk om te bepaal of hulle die praktiese gedeelte kan bemeester.
“Sodoende kan hulle iets positiefs terugsit in die gemeenskap en help om ons leuse uit te voer: ‘slaan misdaad hok in die streek van die wingerdstok."
Vir verdere inligting kan insp Hugo gekontak word by 082-443-5714. * The farm watch initiated by the Wellington police has had success fighting rural crime.
More
News
|