Waarheen moet ons dan?
2007-03-08
EK verstaan Raadop se misnoeë oor die jong klomp wat by die rivier in sentraal-Paarl uitkamp. Ek stem nie saam met alles wat hulle doen nie, maar verstaan die frustrasie waarin Paarl se jongmense is.
Ongelukkig is plaaslik min tydverdrywe teen ’n prys wat ons sakke pas. ’n Plaaslike karavaanpark (wat dagbesoekers toelaat) vra R40 per kop en R40 vir die voertuig. Vir ’n groep van vyf mense en die voertuig werk die dag R240 uit. Dis nogal baie om net rustig by die rivier te kuier en pret te hê saam met jou vriende.
Paarl bestaan 90% uit restaurante en kroeë, en nie almal van ons hou daarvan om in ’n restaurant of kroeg te kuier nie.
Dus al wat oorbly vir ons as jongklomp is om na Wellington, Stellenbosch of Durbanville te ry om by die naaste kuierplekke te kom. Dan is daar nog die padgevare ook.
Ons is jonk en wil ook gesellig verkeer, maar waar? Ons het ook nie juis die grootste salarisse om ons te akkommodeer as dagbesoekers by kampeerterreine in die omgewing nie.
’n Goeie voorbeeld van ’n fasiliteit wat niks kos nie, is Paarlberg Natuurreservaat se Meulwater braaiplekke. Kan daar nie so ’n plek geskep word langs die rivier en toegang van R10 gevra word nie? Kom ons staan almal eerder bymekaar en vind ’n oplossing vir oud en jonk!
Gefrustreerde jongmens
More
News
|