Roses reg vir seisoen, met nuwe vennootskap
2007-03-08
DIE voormalige Springbok-keurder en direkteur van afrigting by Roses United Rugbyklub, Francois Davids, het ’n vennootskap tussen sy klub en die prominente mediagroep Highbury Safika Media gefasiliteer.
Die vennootskap was op aanbeveling van Riaan Oberholzer, voormalige grootbaas van SA Rugby.
Hierdie vennootskap-borgskap is klaarblyklik “veel meer as ’n eenmalige kontantborgskap" volgens Kevin Ferguson, hoofuitvoerende beampte van Highbury Safika, wat onder andere die SA Rugby en SA Cricket tydskrifte publiseer.
Die vennootskap wat vir vyf jaar sal duur, is ’n transformerende poging om spelers, administrateurs asook ondersteuners te ontwikkel en bevorder.
“Die fynere strategiese plan sal eersdaags met die klubkomitee vasgemaak word. Die belegging moet ’n bewys wees dat daar wel korporatiewe markkrag in klubrugby is,” het Ferguson gesê.
“Potensiële Springbokke moet die kans kry om vanaf klubvlak ondersteuning te kry,” het Mveleli Ncula, onder uitvoerende beampte van Saru, tydens die amptelike bekendmaking van die vennootskap verlede week gesê.
“Roses het reeds ’n speler in die SA o.19 groep. Die deur is nou ook oop om te vorder tot senior Springbok-vlak.”
Mark Keohane, voormalige mediabestuurder van Saru, en huidige publikasie-redakteur by Highbury Safika Media, is ook ’n amptelike lid van Roses United.
“Die idee het nou wasdom bereik. Ons is nou in ’n sensitiewe beplanningstadium en sal verkies om eers later besonderhede bekend te maak,” het Keohan gesê.
’n Nuwe gimnasium by Pelikaanpark asook nuwe uitrustings getuig van Highbury Safika se ondersteuning aan die klub.
Intussen het Roses, die huidige Boland klubkampioen, Saterdag sy eerste amptelike opwarmingswedstryd teen Oasis Schotsekloof Walmers in Pinelands gespeel.
Die wedstryd was gekenmerk deur baie geniepsige en vuil spel van die tuisspan se kant af, terwyl onvoldoende kalking van die doellyne beslissings van die skeids- en lynregters bemoeilik het.
Roses het die wedstryd 25-10 verloor. - Chris Davids
More
News
|