Kunstekaap op Saron
2007-03-08
SARON is besig om sy vere reg te skud vir die naweek se besoek van Kunstekaap aan dié dorp.
Dit is die vierdie projek vir uitvoerende kunste op plattelandse dorpe wat deur Kunstekaap se departement van kunste- en gehoorontwikkeling aangebied word.
’n Prettige en veelsydige program word beoog en onder die optredes is die Jazzart-dansteater, Kaapstad Opera, die Kaapstadse Stadsballet, Danny Petersen met trommespelwerksessies, Dizu Plaatjies met inheemse musiek en Soundtrack 4 Life met ‘n program van lewensvaardighede.
Die eerste aanbieding is môre van 08:00 tot 14:00 in die VGK-kerksaal waar Dizu Plaatjies ‘n aanbieding oor Afrika-musiek en -kultuur sal gee aan laer skole van Saron, Tulbagh, Porterville en Gouda.
ST4Life is by Roodezandt Sekondêr, waar hulle sessies met die graad 11-leerders het, terwyl African Djembe met Danny Petersen ‘n tromslaansessie vir onderwysers aanbied.
Prefekte van Roodezandt gaan help met plekaanwysings die Saterdagaand, en daarvoor het hulle’n werksessie Vrydag.
Die gemeenskap van Saron het besluit om self ‘n bydrae te maak tot die feestelikheid: van 15:00 tot 18:00 gaan hulle ‘n gemeenskapskarnaval aanbied met kosstalletjies en hope vermaak.
Dit word deur die twee skole gereël en die opkoms sal gebruik word vir ‘n beursfonds.
Die hoogtepunt is die produksie by Saron Primêr Saterdagaand van 19:00 tot 21:00. Hiervoor word ‘n spesiale verhoog by die skool opgerig en senior leerders sal ook geleentheid kry vir ‘n kykie agter die skerms, wat hulle sal blootstel aan heelwat loopbaangeleenthede.
‘n Groep Saroniete bestaande uit eerwaarde Darrell Makriel, Paul Cloete, Andrew Beerwinkel, Chrissie Afrika, Majorie Jacobs, Metty Smit, Sabina Jeftha, Carol Lahoo en Helena Solomons het hand bygesit met die reëlings.
Die kunstenaars gaan ook tuis by gesinne in die gemeenskap. Marlene le Roux, direkteur van die departement kunste- en gehoorontwikkeling, noem dit ‘n `mensefees’.
“Die plattelandse uitreik wil waardigheid aan ons mense teruggee en ‘n platform vir talentwontwikkeling skep.
“Kunstekaap is daartoe verbind om die lewens van mense in alle gemeenskappe te verryk.”
Marlene het ook haar dank teenoor Drakenstein munisipaliteit uitgespreek vir die hulp wat gebied word.
Nie alleen is daar die infrastruktuur wat tot hul beskikking is nie, maar die munisipaliteit verskaf ook kospakkies aan die akteurs en busvervoer vir leerders van omliggende skole.
Sowat 1000 stoele van skole in die Paarl en Wellington word ook aangery Saron toe. Die Munisipaliteit verskaf ook sekuriteit by die verhoog wat gebou word.
Burgemeester Charmaine Manuel het die jeug in dié gebiede aangemoedig om die geleentheid aan te gryp, “want kuns en kultuur kan soveel waarde tot hul vooruitsigte en lewensuitkyk bring.
“Dit gee ook aan hulle die geleentheid om hul verborge talente uit te bou deur deelname aan ‘n aantal werksessies.”
Kunstenaar Manfred Zylia vergesel die span en vang die siel van die plaaslike gemeenskap vas deur portrette van die inwoners te skilder.
Sy handewerk sal deel wees van ‘n groot uitstalling ter herdenking van Erfenismaand in September. Dit sal in die voorportaal van Kunstekaap te sien wees.
Navrae kan gerig word aan Anthony Sauls, 021-807-4500.
More
News
|