Heelwat talent op ontwikkelingsfietstoer
2007-03-08
DIE tweede jaarlikse Auto Bearings & Seals Ontwikkelings fietstoer wat verlede week in die Paarl gehou is, het gewis getoon dat daar genoegsame fietsrytalent in die Wes-Kaap is.
In die o.16 afdeling het Clint Hendricks van Rhadsport sy goeie vorm van die huidige baanseisoen na die pad oorgedra deur al drie skofte van die wedren te wen.
Hy het deurgaans die aanvalle van Wayne Botha (Tygerberg) afgeweer en Botha só in die tweede posisie gehou.
In die eerste skof het Brandon Christians daarin geslaag om Avery Arendse om die derde plek te klop. Arendse het egter in beide die tweede en derde skof in die derde posisie geëindig.
In die junior afdeling het Albertus Rust daarin geslaag om verlede jaar se o.16 kampioen, Louis Boonzaaier, ore aan te sit. Boonzaaier moes met ’n algehele tweede plek tevrede wees.
In die skofte het die junior en o.23 ryers saam meegeding en het Michael van Staden die skofte heeltemal oorheers.
Hy het die eerste skof gewem, met Reggie Benjamin in die tweede plek en Lesley Snyders van Rhadsport verrassend in die derde plek.
In die tweede skof, ’n heuwelklim, het Van Staden sy heerskappy voortgesit deur Rust met 12 sekondes te klop.
In die derde skof het Rust, Van Staden en Boonzaaier op die laaste ronde in gietende reën van die res van die bondel weggery. Dié drie jaers het hand aan hand oor die wenstreep gejaag, maar die beoordelaars het beslis dat Boonzaaier net-net sy wiel eerste oor die lyn gekry het.
Die uitslae is: (o.16) Clint Hendricks (Rhadsport), Wayne Botha (Tygerberg), Avery Arendse (Yorkshire), Brandon Christians (Rhadsport). (Junior) Albertus Rust, Louis Boonzaaier, Bernard Venter, Helgardt Avenant. (o.23) Michael van Staden (Maties), Bertram Siebrits (Maties), Lesley Snyders (Rhadsport), Reggie Benjamin (Harmony).
More
News
|