Reen maak atletiek, ouers moeilik
2007-03-08
VROEë, hewige reëns het Saterdag chaos veroorsaak by die Boland Atletiekkampioenskap vir hoërskole wat op Stellenbosch gehou is.
Die reën het so hewig neergestort dat sekere items nie kon plaasvind nie en ander verkort is.
Volgens die hoofuitvoerende beampte van Boland Atletiek, Richard Stander, is dit veral die 200m en hekkie-items wat Saterdagmiddag plaasgevind het, wat omvergewerp is.
’n Groep ouers en spanbestuurders het vandeesweek hul teleurstelling uitgespreek rondom die manier waarop Boland Atletiek en die beamptes die byeenkoms hanteer en gereël het.
Hul lys van klagtes wissel van vertragings tot verkeerde uitslae wat alles voor die deur van die “onbeholpe en ongekwalifiseerde beamptes” gegooi word.
Volgens Stander kan die probleme egter hoofsaaklik gewyt word aan die gure weer.
“In die klagtes word daar net na Saterdag verwys. Die byeenkoms het egter al Vrydag begin en dinge het toe alles vlot verloop,” het Stander teruggekap.
“Saterdagmiddag was daar vier hoogspring-items wat weens die reën nie plaasgevind het nie, aangesien dit onveilig sou wees vir die atlete. “Om dieselfde rede is die uitdunne in die 200m en hekkie-items na ’n paar finale-wedlope verkort. Die atlete met die vinnigste tye is toe as die wenners aangewys.
“Dit is dus fisies moontlik dat ’n atleet wat sy of haar uitdun gewen het, nie in die finaal gehardloop het of plek op die podium gekry het nie,” het Stander op een van die spesifieke klagtes geantwoord.
“Die reën het ons in ’n abnormale situasie geplaas en dan neem ’n mens soms abnormale besluite.”
Nog ’n klagte was dat die Boland junior-span, wat Saterdag aan die Wes-Kaapse Kampioenskap moet deelneem, nie Maandag bekend gemaak is soos vooraf ooreengekom is nie.
Stander het verduidelik dat die rekenaars in die nat weer probleme gegee het en dat dit die rede vir van die verkeerde uitslae was.
“Om juis te verseker dat geen atleet verkeerdelik uit die Boland-span gelaat word nie, het ek eers opdrag gegee dat al die uitslae van die naweek se byeenkoms geverifieer moet word.
“Om dié rede is die kies van die Boland Junior Atletiekspan eers uitgestel tot later vandeesweek.”
Die skole wat atlete in die Boland-span het, sal voor die einde van die week in kennis gestel word van watter atlete verkies is.
More
News
|