Albions begin seisoen met drieëfees
2007-03-15
DIE spelers van Albion Rugbyklub het hul seisoen Saterdag op ’n hoë noot afgeskop met ’n 43-21 sege oor Windmeul Rugbyklub.
Alhoewel die hitte sy tol geëis het, het albei spanne gedurende die eerste helfte gewys waartoe hulle in die nuwe jaar in staat is.
Albion, met ’n paar belowende jong spelers, het hulle goed van hul taak gekwyt en teen rustyd 26-14 voorgeloop.
Christopher Kainda (linkervleuel), Clinton Simons (heelagter) en Anfred Matjan (regtervleuel) het agterlangs baie goed vertoon.
Onder die voorspelers het Mark Moses en Alfredo Adams (albei slotte) al hul lynstaanballe gewen. Die flank Jenovan Cornelissen het gewys dat hy steeds op vorm is en ook een van sy beter wedstryde gespeel.
Kainda is as die speler van die wedstryd aangewys met drie drieë en een doelskop agter sy naam.
Die ander puntemakers vir Albion was Ashley Manuel (2 drieë), Brendon Hendricks en Jenovan Cornelissen (elk een drie), Lincoln du Preez (twee doelskoppe) en Alfredo Adams (een doelskop).
Jonathan Fortuin, André Andries en Denvel Appollis (elk een drie) en Jannie Williams (drie doelskoppe) het die punte vir Windmeul aangeteken.
Eerskomende Saterdag speel Albion teen Young Gardens op Gardens Park. Wedstryde begin 14:00 met die hoofwedstryd wat om 16:30 sal afskop.
Na afloop van die dag se spel sal daar ook karaoke aangebied word. Die plek gaan by die veld bekend gemaak word en sal om 19:00 begin.
More
News
|