Peoples se derde krieketspan wen liga
2007-03-15
DIE derde span van Young Peoples Krieketklub het vanjaar ‘n wafferse vertoning gelewer en is dus welverdiend die wenners van die Boland Platteland Reserwe Liga.
Onder die goeie prestasie wat die span die afgelope seisoen gelewer het, tel James de Wet se telling van 96 teen Van der Stel, Hershell Baron se 89 lopies teen Spes Bona, Ryan Davids se 45 ook teen Spes Bona en Gerswhin Philander se 73 lopies teen Van der Stel. Dit is veral Philander, wat vanjaar vir die eerste keer vir Young Peoples speel, wat die vonds van die seisoen is.
Benewens sy goeie prestasie met die kolf het hy ook by twee geleenthede die paaltjies op skouspelagtige wyse laat kantel. Teen Atlantis het hy ‘n boulontleding van 6/16 in vyf boulbeurte behaal, terwyl hy teen Paarl-Oos 5/45 in nege boulbeurte behaal het.
Philander se totaal vir die seisoen is heel merkwaardig met 27 paaltjies in nege wedstryde en 194 lopies in agt wedstryde.
Dit is dus g’n wonder dat hy as die derde span se speler van die jaar aangewys is nie.
Nog ‘n bouler wat ook goeie syfers behaal het, was Davids met sy 6/30 in 10 boulbeurte.
* DIE eerste krieketspan van Young Peoples is steeds segeloos in die Top Agt-afdeling van die Boland Premierliga-kompetisie, nadat Brackenfell hulle Saterdag op die Daljosafat Stadion met 51 lopies geklop het.
Brackenfell stel vir Peoples die taak om 207 lopies aan te teken vir ‘n oorwinning, danksy goeie beurte deur Wimpie Louw (40) en Chester Adams (41).
Vir die tuisspan het Lorenzo Jacobs (3/20) en Jarier Alexander (2/24) goed geboul.
Peoples se treurmare met die kolf duur voort en die tuisspan word vir ‘n skamele 155 uitgehaal, ondanks goeie bydraes deur Brendon Adams (48), Dominic Daniels (31) en Elmarco Janjala (29). Gertjie Fourie (3/44) het die Brakke se boulaanval gelei.
Peoples II het ook met agt paaltjies teen Brackenfell II verloor in hul wegwedstryd.
Peoples kon slegs 130 lopies opstapel, waarna Brackenfell net na etenstyd die wenlopies behaal het (138/2).
Peoples III het verseker dat hy die ligabeker wen, toe hy Saterdag vir Paarl-Oos III op Allandale met agt paaltjies geklop het.
Peoples sal Saterdag sy seisoen op ‘n hoogtepunt wil afsluit wanneer hy in sy laaste wedstryd teen Wellington te staan kom op die Pen Basson-veld.
Peoples II speel ook tuis teen Wellington en sal op Woensdag 21 Maart teen Paarl II te staan kom op die Parysveld.
More
News
|