Kerk sien tik-nood raak
2007-03-15
EK lê op my knieë voor die Here oor my kind. Só sê een van die moedelose ma’s by die St Josephs AME-kerk in Bougaardstraat, Paarl se Tik-kamer.
Eerwaarde Keith Links, leraar van die gemeente, sê die nood in die gemeenskap het hulle aangegryp.
“Ons wil ’n plek skep waar mense kan praat. Ons gee nie oplossings nie, maar mense kan hul harte hier kom uitstort.
“En ons gaan bid, want gebed verander mense, bring oplossings.”
Teen die muur is berigte oor Tik en op die tafel brand ’n kers vir almal wat deur dié euwel geraak word.
Moeders, oumas, tantes en sommer net bekommerde lede van die gemeenskap sit in ’n halfmaan om die tafel - duidelik onseker wat om te verwag.
Maar as hulle eers gerus gestel is, bars die emosionele mure oop en die stories wat vertel word, ruk ’n mens.
Daar is die verhaal van ’n 25-jarige meisie, swanger en waarskynlik nog steeds op Tik. Die pa van die baba is ook verslaaf.
’n Dertienjarige seun wat so uitgeteer is dat hy skaars nog asemhaal.
’n Jongman wat al maande lank in ’n donker kamer lê - hy neem net vloeistof in en rook sigarette in sy poging om die verslawing te breek. Sit sy ouers die kamerlig aan, raak hy berserk en breek alles voor die voet.
’n Ma en kinders wat donkernag uit hul huis moet vlug voor ’n seun wat hul huis “’n ramp maak”.
“Dit baat nie ons skuil nie,” bieg een ma. “Ons kan hulp kry, maar dan moet ons oopmaak.”
Die waarde van die Tik-kamer is duidelik. Behalwe ontlading, kry mense ook die geleentheid om by mekaar te leer.
“Ons moet ons kinders vertrou ook. Al is ons hóé bekommerd, moet ons versigtig wees wat ons vra.”
“In plaas van ‘ek gaan jou wegstuur’, moet ons liewer sê ‘ek is lief vir jou, ek bid vir jou’.”
“Praat help nie, gaan op jou knieë.”
“Dankie Here, hy is nie aangerand nie,” is een moeder se dankgebed as haar seun uiteindelik by die huis kom.
Die probleem eindig ook nie by Tik nie. Verhale van drank- en ander dwelmmisbruik bring ’n mens diep onder die indruk van die omvang van die probleem.
“Ek sit met ’n geval waar die vrou en man ewe hard drink. Die kleintjie ly aan alkoholsindroom en haar magie werk al twee maande lank. My trane loop.”
Dan is daar die storie van ’n tikhuis waar die seun sy ouers slaan omdat hy “moeg is vir hulle drinkery”.
Bewerings is ook volop van jong kinders by smokkelhuise, in een geval selfs ’n vyfjarige wat vertel dat sy saam met haar ouers gaan “dans”.
“Ons het bang geraak om te sê wat ons weet,” meen eerw Links. “Ons moet praat. Mense kan gered word van dwelms en wat nog. God is ver groter as dié probleme.”
* Die Tik-kamer is elke Dinsdag en Donderdag van 10:00 tot 12:00 oop vir berading en voorbidding. Navrae by eerw Links, 021-862-1954 of 076-450-4198.
More
News
|