Drome kan waar word
2007-03-15
TOUE gretige gesiggies, taai handjies elk met R2 om ‘n stukkie van ‘n droom te koop.
Dit was die gesig Saterdagaand op Saron, waar Kunstekaap gekuier het met hulle spesiale uitreikingsprogram vir die platteland.
Teen die tyd wat die hoofdis aangebreek het Saterdagaand, het die opwinding reeds hoog geloop. Vir weke lank is daar beplan aan die program, vir dae voor die tyd het kunstenaars en tegnici by plaaslike gesinne tuis gegaan.
“Ons doen nie die program vír die mense nie, maar mét die mense,” het Marlene le Roux, Kunstekaap se direkteur: kunste en gehore-ontwikkeling, beslis gesê.
En hulle het daad by woord geplaas. Nie alleen was dit duidelik dat die gemeenskap hulle geken en waardeer het teen Saterdagaand nie, hulle het werklik die harte binne gedring.
Dit was ook duidelik uit die inisiatief wat van die gemeenskap gekom het om die program aan te vul met ‘n gemeenskapskarnaval die Saterdagmiddag.
Dit is dus ‘n redelike moeë, maar opgewonde gehoor van so om en by ‘n duisend kinders en grootmense wat net ná 18:00 begin regskuif vir die kunstenaars.
Kunstekaap kon nie ‘n geskikte saal vind vir die tonne toerusting wat nodig is vir ‘n produksie van dié aard nie en daar is besluit om kreatief te wees.
‘n Buitelug-verhoog is by Laerskool Saron gebou: ‘n reuse, moderne konstruksie met die sonsondergang as agtergrond vroegaand.
Asemrowend is Dizu Plaatjies en sy groep afgeëts teen die bloedrooi van die sakkende son. ‘n Paar bome reg agter die verhoog het ‘n pragtige agtergrond geskep later die aand, teen die fluweeldonker van die sterrenag.
Die klank het met tye probleme veroorsaak, maar die kunstenaars het hulle nie daardeur laat afsit nie en die gehoor het hul waardering laat hoor vir die professionele optrede.
Die hoogtepunt op die spyskaart was beslis die vertoning van Jazzart. In die geselskap was twee plaaslike dansers, Samantha Fortuin van die Paarl en Marlon Zoutman, ‘n boorling van Saron.
Hulle was nie net groot gunstelinge nie, maar het ook die boodskap tuis gebring: hierdie is net ‘n voorsmakie van al die loopbaangeleenthede wat wag vir leerders wat sou belang stel.
Moeg en effens stil is meeste van die gehoor daar weg. Maar in baie blink ogies kon ‘n mens die drome sien. As dit van hulle afhang, sal daar in die toekoms heelwat meer plaaslike name op die program verskyn...
-Susan Botha
More
News
|