Sterkste Boland-atletiekspan gekies
2007-03-15
’n RITS plaaslike atlete is in die Boland-span opgeneem wat Boland Atletiek as sy “sterkste span nog” bestempel.
Dié 29 atlete sal die provinsie by die SA Senior Baan- en Veldkampioenskappe verteenwoordig. Dié byeenkoms word die naweek in Durban gehou.
Die atlete sal mik om tydens die byeenkoms te kwalifiseer vir die Afrika Spele wat in Julie in Algiers plaasvind asook die IAAF Wêreldkampioenskap wat in Augustus in Japan gehou word.
Onder die atlete wat in die span opgeneem is, is Janice Josephs (SA Sewekamp, verspring- en 100m hekkieskampioen), Janus Robberts (SA gewigstoot-kampioen), en Robert Oosthuizen (Wêreld Junior spiesgooikampioen).
In die afwesigheid van Frans Kruger wat verlede jaar die goue medalje in die diskus-item gewen het, staan Robberts ’n goeie kans om twee goue medaljes te wen tydens vanjaar se SA kampioenskap.
Met Hardus Pienaar wat sukkel met ’n besering, hoop Oosthuizen om die bronsmedalje wat hy tydens verlede jaar se SA’s gewen het, te verruil vir ’n goue.
Twee atlete wat verlede jaar brons verower het en sal hoop om vanjaar beter te vaar, is die Paarliet, Elmarco Mathews (driesprong), en Johan du Plessis (paalspring).
Wat die span veral kenmerk is die groot getal junior atlete in die Boland-span.
Al 10 die junior atlete wat in die Boland-span opgeneem is, het reeds in die verlede by die SA Jeug en Junior Kampioenskappe medaljes verower.
Dié junior atlete is Dewayne Mouries (3000mH), Maurice Fischer (HS), Bevan Hendon (HS), Wickus Jonck (400mH en 110mH), Louw Smit (110mH), Keenan Watson (VS), Liné Barnard (GS), Nikki Horn (100m), Saundre Jacobs (400m) en Leanne Viviers (PS).
Die Wellingtonner Sors Joubert, die SA Tienkamp-kampioen vir 2006 en 2007, moes hom aan die span onttrek weens 'n ernstige enkelbesering.
Die volledige Boland-span is: Charles Jantjies (1500m), Jurie Muller (1500m), Dewayne Mouries (3000mH), Dicardo Jacobs (3000mH), Johann du Plessis (ps), Maurice Fischer (hs), Bevan Hendon (hs), Wickus Jonck (400mH en 110mH), Ross Jordaan (gs), Ross Jordaan (dg), Regan Julius (vs), Elmarco Mathews (vs), Sergio Mullins (200m), Robert Oosthuizen (sg), Alphonso Primo (3000mH), Janus Robberts (gs en dg), Louw Smit (110mH), Keenan Watson (vs), Franco September (400m), Janice Josephs (100mH en vs), Ruzanne Harris (20km Stap), Liné Barnard (sp), Nikki Horn (100m), Saundre Jacobs (400m), Karin le Roux (hg), Leanne Viviers (ps), Tihana Vorster (400m), Marike Walters (100mH).
More
News
|