Wilfred het groot planne met modes
2007-03-15
“DIE naam is Bosman - Wilfred Bosman, mode-ontwerper!”
Dis hoe dié matriekseun homself dalk in die toekoms kan voorstel, want hierdie matrikulant by Paulus Joubert Sekondêr is die enigste seun in die naaldwerkklas vanjaar.
Hy beoog om homself as mode-ontwerper in die toekoms te bekwaam, nadat hy verlede jaar die skool se toekenning vir die beste naaldwerkleerling losgeslaan het.
Georgina Adams, sy naaldwerk-opvoeder meen hy gaan dit nog ver bring as hy die nodige ondersteuning kry na matriek.
“Wilfred het baie potensiaal en het leiding nodig,” sê sy.
Naaldwerk as vak word aan die einde van hierdie jaar afgeskaf volgens die nuwe matriek-leerplanvereistes en sy moedig Wilfred aan om volgende jaar mode-ontwerp by die Kaapse Technikon te studeer.
Wilfred bly by sy tante in Amstelhof en het reeds ’n pragrok ontwerp vir sy niggie Shannon. Sy doen modelwerk en het dit gedra na die mini-matriekafskeid verlede jaar.
Die meisies draai opgewonde om hom wanneer hy hulle van sy rokontwerpe wys en almal wil hoor van sy idees om hulle op te smuk en mooi te laat lyk.
Selfs van die onderwyseresse staan nuuskierig nader om na sy ontwerpersboek te kyk wat hy maar altyd saam met hom piekel.
“Baie van die matrieks het my genader vir ontwerpe vir hul matriekafskeidrokke.
Ek het van my ontwerpe vir Jolette le Roux, ’n boetiekeienares op Stellenbosch, gegee. Sy het baie daarin belang gestel en gesê dat sy bereid is om te help.
“Nou soek ek borge vir my eie modeskou wat ek vir Julie beplan. “Eersdaags begin die matriekafskeide en ek wil graag dan van my ontwerpe ten toon stel in die skoolsaal,” sê hy.
Wilfred kan gekontak word by 021-862-7834.
* A Paarl matriculant is the only boy in his school’s needlework class.
More
News
|