Skool maak rekenaar-hart oop
2007-03-15
KLEIN BOISHAAI het sy tegnologiese hart oopgemaak om vir leerders van Klapmuts Primêr touwys te maak met rekenaars.
Die skool in die Paarl beskik oor uitstekende rekenaarfasiliteite en skoolhoof Henk Arangies het Klapmuts Primêr genader om hul tegnologie met hulle te deel.
Elke Vrydag word tien leerders van Klapmuts na Klein Boishaai geneem vir rekenaaronderrig. Hulle word elkeen deur ‘n Boishaaier bygestaan wat vir hulle die magdom van rekenaar-towerkuns wys.
Dit is die eerste keer dat dié Klapmuts leerders hulself voor ‘n rekenaar bevind.
Een van hulle, Hillgarth Leibrandt (12), het vertel dat sy nie eens ‘n rekenaar kon aanskakel toe sy die eerste keer by Klein Boishaai aangekom het nie.
“Nou skakel ek sommer self aan en gaan direk na die program waarop ons moet werk. As ons klaar is skakel ek op die regte manier die rekenaar ook af.
“Ek wil alles leer wat daar te leer is van rekenaars, en eendag moet ek ander mense ook dit kan leer.”
Ronald Frans, skoolhoof van Klapmuts Primêr, het gesê dat hy baie dankbaar is aan Paarl Primêre Seunskool wat vir sy leerders so ‘n goeie geleentheid bied.
“Tans het ons nie ‘n rekenaarkamer nie, want ons skool bars uit sy nate en daar is nie ‘n veilige vertrek daarvoor nie.
“Totdat ons situasie hier verbeter, is dit ‘n groot voorreg om vir van my leerders die geleentheid te gee om die wonders van rekenaars te ontdek.
“Verlede week was dit vir my ‘n riem onder die hart toe ek e-posse ontvang het van dié leerders. Dit is verrykend om te sien hoe goed hulle vorder.”
Die Paarliete beoog om die huidige leerders van Klapmuts Primêr vir twee jaar verder rekenaaronderrig te gee.
* Paarl Boys’ Primary has opened its computer room to a disadvantaged school from Klapmuts.
More
News
|