Kinders oorleef busongeluk
2007-03-15
SES-en-twintig skoolkinders het Woensdagmiddag verlede week ’n noue ontkoming gehad, toe die bus waarin hulle vervoer is, omgeslaan het.
Die ongeluk het omstreeks 14:30 plaasgevind toe ’n gekontrakteerde bus onderweg was om kinders vanaf skole in Franschhoek na Wemmershoek te vervoer.
Kort voor De Hollandse Molen het die bestuurder egter beheer oor die bus verloor, by ’n wal afgery en onder in die sloot omgeslaan.
Ooggetuies het vertel dat die bestuurder van die bus wat aan Opperman-busdienste behoort, pad moes gee vir ’n voertuig wat reg van voor op hulle afgepeil het.
Twee leerders van Groendal Sekondêr, Natalie Gabriel (16) en Raynel Boonzaier (18), is na die Paarl Hospitaal geneem met nekbeserings, terwyl verskeie ander leerders op die toneel behandel is vir geringe wonde.
Die verligte skoolhoof van Groendal, Melvin Kulsen, het gesê dat hy baie dankbaar is dat geen van die leerders ernstig beseer is nie.
“’n Mens lees dikwels van lelike busongelukke en ek is bly dat ons kinders ’n moontlike tragedie vrygespring het.”
* Children escaped with their lives when a school bus toppled.
More
News
|